Gallery
SUID-KAAP RUGBYNUUS - Die SWD Arende het Vrydagaand in gietende reën op Outeniquapark hul beste vertoning van die jaar gelewer deur die bulspan van die Griffons te 32-7 klop.
Rustyd was die wenspan met 13-7 voor.
Die hoofafrigter van die Arende, Rynardt van As, en sy afrigtingskorps verdien 'n pluimpie vir sy span se puik vertoning teen 'n span wat die afgelope twee jaar die Curriebekerreeks se Eerste Liga-kompetisie gewen het.
Die Arende, wat verlede Vrydagaand vir die Grens Bulldogs met 37-22 geklop het, het vier pragdrieë gedruk teen die manne van Welkom.
Met hul volpunte oorwinning is hul nog steeds na drie wedstryde in die reeks tweede op die punteleer met 11 punte en 'n punteverskil van (+38). Die Luiperds, wat Saterdag vir die OP Olifante met 28-21 geklop het, beklee nog die eerste posisie met 14 punte en 'n punteverskil van (+32).
"Ek is baie trots op die volpunte oorwinning wat my span behaal het onder die moeilike omstandighede. Die ouens het hul lywe op die spel geplaas met hul rotsvaste verdediging. Die Griffons het net eenkeer ons doellyn oorgesteek. Ons eerste fase besit, vaste fasette, lynstaanspel en skrumwerk was uitstaande. Wat verblydend was, is dat die manne in die regte areas gespeel het," het Van As na die wedstryd aan die George Herald gesê.
Die Arende se skerpskutter-losskakel, Divan Nel, het 12 waardevolle punte met die skoen aangeteken. Nel se taktiese skoppe en puik balverspreiding het die besoekers hoofbrekens gegee.
Agter die skrums het hul kookwater-skrumskakel, Johan Steyn, gedy in die nat omstandighede. Die senterpaar, Tyler Fisher en Vuyo Mboto, het as eenheid uitmuntende samespel gelewer. Veral Mboto, wat aangewys is as speler van die wedstryd, het in die aanval en verdediging geskitter. Sy voorgevoel vir die spel en oog vir 'n gaping het die besoekers telkens onkant betrap.
Die spoedvraat, Marlo Weich, regtervleuel, wat twee pragdrieë gedruk het, het met sy kraglopies, spoed en verdediging die oog gevang. Op sy beurt was die opwindende heelagter, Leighton Eksteen, uiters gevaarlik wanneer hy by sy agterlyn aangesluit het.
Voorlangs het die Arende se lostrio, Wayne Wilschut, Nicolaas Immelman en Janneman Stander, as 'n eenheid baie goed saam gespeel. Veral die klipharde Stander, wat in sy 50ste wedstryd gespeel het, het met kraglopies sy span telkemale oor die voordeellyn geneem.
Hul bulslot, Wynand Grassman, het goeie besit in die lynstane gewen. Grassman het ook in die vastelos reusewerk verrig vir sy span. Die Arende se plaasvervangersbank het ook 'n reuse verskil gemaak. Veral Le Roux Baard, wat net voor rustyd sy kaptein, Jacques Vermaak, op haker vervang het. Baard het talle omgekeerde besit bewerkstellig en met kraglopies baie veld vir sy span gewen.
Puntemakers
SWD Arende 32 (13): Drieë - Marlo Weich (regtervleuel, 2), Wayne Wilschutt (agtsteman), Vuyo Mboto (binnesenter). Divan Nel (losskakel) slaag met 3 doelskoppe en 2 strafdoele.
Griffons 7 (7): Drie - Tertius Maarman (heelagter). Heinrich Webster Bitzi (plaasvervanger-losskakel) slaag met die doelskop.
Die Arende se volgende wedstryd is op Saterdag 15 September teen die Valke weg.
Die wedstryd teen die Windhoek Draught Welwitchias en die Arende wat op 21 September op Outeniquapark sou plaasvind, is afgelas aangesien die Welwitchias hul onttrek het aan die kompetisie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'