RIVERSDAL NUUS - Die derde jaarlikse bergfietsuitdaging, asook tweede pretdraf word Saterdag 8 September deur Baleia Wines & Olive Oil, geleë langs die N2 buite die dorp aangebied.
Eienaars, Jan-Hendrik en Lindi Joubert, beide kranige driekampatlete wat pas die Durban 70.3 halfysterman-kompetisie voltooi het, tesame met hul span sal op die dag die gaste onthaal.
Bergfietsuitdaging
Daar is twee afstande om van te kies; 20 km (R100 inskrywingsfooi) en 63 km (R200 inskrywingsfooi) wat beide om 08:00 wegspring. Die roetes bestaan uit vloeiende grondpad, enkel- en tweespoorpaaie deur die groen koringvelde en geel kanolavelde van die distrik. Die tydsberekening is perfek vir bergfietsryers om deel te neem aan hierdie geleentheid voor die komende Karoo to Coast.
Pretdraf
Die veldwedloop is oor twee afstande; 6,5 km (R60 inskrywingsfooi) en 16,5 km (R100 inskrywingsfooi) wat beide om 08:00 wegspring. Deelnemers kan uitsien na grondpaaie, jeep- en enkelpaaie en klein heuwels. Dale, klowe en 'n stukkie woud is ook op die roete ingewerk. Daar sal 2 waterpunte op die 16 km-roete wees, hoewel deelnemers aangemoedig word om ook hul eie voorrade saam te neem.
Drawwers tydens verlede jaar se eerste pretdraf tydens die wegspring.
Registrasie
Registrasie vir beide die veldwedloop en bergfietsuitdaging kan aanlyn by www.baleiawines.com gedoen word terwyl deelnemers ook Vrydag 7 September en vroeg Saterdagoggend by Baleia Wines & Olive Oil-kelder kan registreer.
Vooraf registrasies sal elk 'n geskenksak ontvang en ook die kans staan om wonderlike pryse te wen.
Vir meer inligting kontak Adolf Botes by adolfbotes@mweb.co.za, telefoon 082 337 6286 of besoek hul webtuiste by www.baleiawines.com.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'