TUINROETE SPORTNUUS - Eden-tweekamp beplan 'n baie besige seisoen.
Benewens die Highgate Interprovinsiaal waaraan sewe provinsies op 1 Februarie sal deelneem, vind die 45ste Sportsman's Warehouse SA kampioenskap vir 14 provinsies ook op 20 en 21 Maart plaas.
Dis die derde SA kampioenskap wat Eden (voorheen SWD) aanbied.
Albei byeenkomste word by die munisipale fasiliteite op Oudtshoorn gehou.
Eden-tweekampvereniging is in 2019 as die Eden-sportraad se sportfederasie van die jaar aangewys en was 'n finalis vir die Wes-Kaapse titel.
Tydens die kampioenskap in Maart sal die SA tweekamp mini-museum ook op Highgate geopen word, 'n droom wat met ondersteuning van Johan Keller na jare 'n werklikheid geword het.
SA tweekamp is sekerlik een van die min sportsoorte in die land wat staan op 47 ononderbroke SA kampioenskappe - voorwaar 'n suksesverhaal. Die sport bestaan uit swembadswem (25m, 50m of 100m) en baanhardloop (400m tot 1 600m).
Die tyd behaal in die twee items word aan die hand van 'n gestandaardiseerde puntetabel en bymekaargetel vir die totaal in punte omgeskakel.
Die amptelike seisoen strek vanaf September tot April en die ouderdom wat die atleet op 31 Augustus van die vorige jaar is, bepaal die ouderdomsgroep waarin die hy/sy vir die res van die jaar sal deelneem. Volgens die operasionele bestuurder Dave van der Walt is tweekamp 'n sport wat baie bied en die hele gesin betrek.
Hy sê daar is selfs deelnemers wat ouer as 80 jaar is.
Kontak Dave van der Walt by 082 773 4901 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'