RIVERSDAL NUUS - Die 560 kg-toutrekspan van die Hoër Landbouskool Oakdale is as die Protea-span aangewys om Suid-Afrika by die wêreldtoutrekkampioenskappe in Holten, Nederland, te verteenwoordig.
Die groep bestaan vanjaar uit 12 lede. Die span vertrek Sondag 11 September vanaf Kaapstad Internasionale-lughawe na Nederland.
Sedert die SA kampioenskappe, waartydens Oakdale as die SA-span gekroon is, het hulle onder die afrigtingsoog van Piet Lourens talle ure se oefentyd aan die tou en op die pad bestee.
Suid-Afrika hou duim vas dat hierdie nasionale span met groot sukses sal deelneem en goud sal terugbring.
Oakdale spreek hul dank uit aan Klein Karoo Saadproduksie, SSK en verskeie kleinere donateurs in Riversdal wat hierdie toer moontlik gemaak het.
Die 560 kg-span het is ook vanjaar by die Eden-sporttoekennings as die beste sportskolespan aangewys. Oakdale se Piet Lourens het ook met die Eden-sportafrigter van die jaar-prys weggestap.
Die Hoër Landbouskool Oakdale se 560 kg-toutrekspan wat Suid-Afrika in Holland by die wêreldtoutrekkampioenskappe gaan verteenwoordig. Voor van links: Janco Olivier, Roedolf Robertson, Piet Lourens (afrigter), Francois Swanepoel (hoof uitvoerende beampte van SSK), Willem du Buisson (skoolhoof), Zack Kroukamp en Gideon Pretorius. Agter: NJ Tesner, Reghard Olivier, Wesley Barkhuizen, Sebastian Lötter, Tiaan Kok, Thys Lourens, D’Niel de Wet en Sebastian Strydom.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'