HESSEQUA NUUS - Die 2017 Eden-sportraad se sporttoekenningsfunksie wat Donderdagaand 27 Julie op Riversdal in die burgersentrum aangebied is, het glad verloop.
Op plaaslike front is Jenny Olivier van die gemeenskapsentrum, Melkhoutfontein as die Gemeenskapsbouer van die Jaar aangewys en die Hoër Landbouskool Oakdale se 560kg troutrekspan het die toekenning as Span van die Jaar ontvang.
Elize Erasmus van Stilbaai was onder die agt Legendes wat elk ‘n sertifikaat ontvang het. Die Presidentstoekenning het vanjaar aan die ou strydros van sport in Eden, Denzil Geldenhuys, gegaan.
Eden-fietsryfederasie onder die voorsitterskap van Corné Bence, is as die topfederasie in die Eden-distrik aangewys. Die sportman van die jaar is Georgou Divaris (seiljag) en die sportvrou van die jaar, Elma Davis (rolbal).
Volgens die voorsitter van die reëlingskomitee, Rudi Claassen, moes meer as 160 nominasies verwerk word om die wenners in die 31 kategorieë aan te wys. "Nominasies van hoogstaande gehalte is ontvang.
Die reëlingskomitee was aangenaam verras met die getal genomineerdes wat op internasionale vlak presteer het," het hy gesê.
Die burgermeester van Hessequa, rdl. Grant Riddles het in sy spreekbeurt dankie gesê dat die funksie ook na Riversdal gebring is. Hy het die EDENSR geloof vir die puik manier waarop dit georganiseer en aangebied is.
Lees meer in Donderdag se Suid-Kaap Forum, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'