Drie skole in die Hessequa streek, Laerskool Bertie Barnard, Melkhoutfontein Primêr en Panorama Primêr bied reeds van die begin van 2012 skaak as skoolvak aan vir hul leerders. Skaak is soveel meer as net ‘n sport, dit bevorder syfervaardighede, ruimtelike persepsie, probleemoplossing, strategiese denke, beredenering en nog vele ander lewensvaardighede.
Moves for life:
Die Moves for Life skaakprogram is amptelik op 24 Oktober 2010 bekend gestel met President Zuma as die organisasie se beskermheer. Die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga ondersteun die doelwit dat skaak as skoolvak by alle skole in Suid-Afrika aangebied word en is daar reeds 52 skole in die land wat dit wel doen met meer as 11000 leerders wat die besonderse Mini-skaak program volg.
Deur middel van die program word basiese wetenskap en wiskunde konsepte speel-speel geleer en kan enige kind by die program baat. Daar is ook reeds meer as 300 onderwysers landwyd opgelei wat nou skaak suksesvol as skoolvak aanbied. Skaak is ook die enigste sport wat deur die departement van onderwys goedgekeur is as skoolvak. Navorsing het getoon dat kinders wat skaak as skoolvak neem baie beter vaar op skool as kinders wat dit nie as vak neem nie.
Gari Kasparov:
Die voormalige wêreld skaakkampioen, Gari Kasparov was in 2011 in Suid-Afrika om die Mini-skaakprogram te ondersoek en het aangedui dat hy die program beskou as die mees wetenskaplike gefundeerde 'skaak in skool' ter wêreld. Kasparov het in Maart hierdie jaar die "Kasparov Chess Foundation Africa" gestig en beoog om die Mini-skaakprogram in Suid-Afrika te ondersteun en na die res van Afrika te versprei. Kasparov self sien skaak meer as net ‘n spel en sien dit as ‘n besonderse opvoedkundige manier om die logiese breingolwe te stimuleer wat nodig is om uit te blink in veral wiskunde en wetenskap. Kasparov het die wêrelde kampioentitel verwerf toe hy 22 jaar oud was en was die wêreld se nommer een skaakspeler vir meer as 21 jaar.
Meer oor die Mini-skaakprogram:
Die skaak word gespeel op ‘n skaakbord met 8 rye en 8 lyne wat hom daartoe leen om byvoorbeeld tafels tot en met die 8x tafel visueel en konkreet te illustreer. Vormerkenning soos byvoorbeeld hoeveel vierkante in ‘n blok van 3x3 vierkante word ook aangeleer. Daar word gebruik gemaak van ‘n magnetiese demonstrasiebord (verkieslik een per klas), genoeg skaakborde en stelle asook opsioneel een groot vloer-skaakbord.
Dit is belangrik dat Mini-skaak reeds in graad R as vak geneem word aangesien dit ‘n goeie basis lê vir die kind se hele skoolloopbaan en verbeter ook skoolgereedheid. Gedetaileerde lesplanne is reeds uitgewerk vir die onderwyseres en duur ‘n skaakles ongeveer 40 minute, een maal per week. Die sillabus is vir die hele jaar.
Skole wat belangstel in skaak as skoolvak is welkom om me. Wyna Roestorff te kontak vir meer informasie.
George Lawerlot, Mini-skaak hulponderwyser en juffrou Hendricks, graad 2 onderwyser by Melkhoutfontein Primêr, besig om die leerders te wys hoe om die skaakbord te pak.
Leerders in die graad 1 klas van juffrou Elmarie du Toit van Laerskool Bertie Barnard, besig om in hul Mini-skaak boekies te werk.