TUINROETE NUUS - Die Highgate Eden-tweekampspan het by die 44ste Suid-Afrikaanse tweekampkampioenskappe in Port Elizabeth weer goed rekenskap van hulself gegee en algeheel die vierde plek ingeneem.
Die Eden-span van 72 het teen 827 atlete van 14 provinsies deelgeneem. OP-tweekamp was die gasheer en die fasiliteite van die NMU-atletiekbaan en die Newton Park-swembad is ingespan.
Eden het vyf medaljes asook 'n vierde plek in die junior en 'n vyfde plek in die senior afdeling ingepalm.
Eden is aangewys as die vierde beste tweekamp-provinsie ná die Westelike Provinsie, die uiteindelike wenners, die OP en Boland. Eden het onder andere met grotes soos Gauteng-Noord, Sentraal-Gauteng, Vrystaat, Noordwes, KZN en Limpopo afgereken.
Eden se medaljewenners was Johan Windt (mansmeester: goud en 'n SA rekord), Reynard Janse van Rensburg (seuns o.17: silwer), Tanya Osborne (veteraanvrou: brons), Damian Smith (spesiale behoefte atlete: goud) en Minke Janse van Rensburg (spesiale behoefte atleet: goud).
Minke se 36.19 in die 50 m-vryslag is meer as een sekonde vinniger as die huidige downsindroom ope wêreldrekord wat tans gehou word deur die 29-jarige Mexikaan, Dunia Camacho.
Dit maak haar nou die wêreld se vinnigste downsindroom-swemmer in die kortbad (50 m-vryslag).
Ander atlete wat ook puik gepresteer het, is André Kleynhans, Anlizé Vermeulen en Edie Lutch (almal vierde), Pieter van der Mescht (vyfde) en Cliff Wallace (sesde).
Eden bied in 2020 die 45ste SA kampioenskappe op Oudtshoorn aan. Hy het dit ook in 2001 en 2013 aangebied.
In die skolekompetisie het Hoërskool Outeniqua 'n vierde plek en Hoër Landbouskool Oakdale 'n sewende plek in die hoërskole afdeling behaal. In die afdeling vir laerskole het Laerskool Knysna 'n 10de en Laerskool Plettenbergbaai 'n 11de plek behaal.
Weens die protesaksie tussen Knysna en Plettenbergbaai moes atlete en ouers van, onder andere Eden, 'n ompad deur die Langkloof ry en was hulle laat vir die openingseremonie.
Tydens die prysuitdelingseremonie is die SA tweekampvlag amptelik deur OP aan Eden in 'n simboliese seremonie aan die voorsitter van Eden-tweekamp, Stephnie McKay oorhandig.
Eden bied in 2020 die 45ste SA kampioenskappe op Oudtshoorn aan. Hy het dit ook in 2001 en 2013 aangebied.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'