HESSEQUA NUUS - Die 2017 Eden-sportraad se sporttoekenningsfunksie wat Donderdagaand, 27 Julie op Riversdal in die burgersentrum aangebied is, het glad verloop.
Op plaaslike front is Jenny Olivier van die Gemeenskapsentrum, Melkhoutfontein as die gemeenskapsbouer van die jaar aangewys en die Hoër Landbouskool Oakdale se 560 kg-toutrekspan het die toekenning as span van die jaar ontvang.
Elzie Erasmus van Stilbaai was onder die agt Legendes wat elk 'n sertifikaat ontvang het. Sy speel korfbal sedert 1952 en ringtennis sedert 1963 op klub en provinsiale vlak. In 1981 ontvang sy die Staatspresidentstoekenning. Vanaf 1994 speel sy rolbal by Stilbaai Rolbalklub.
Die Presidentstoekenning het vanjaar aan die ou strydros van sport in Eden, Denzil Geldenhuys, gegaan. Eden-fietsryfederasie onder die voorsitterskap van Corné Bence, is as die topfederasie in die Eden-distrik aangewys.
Die sportman van die jaar is Georgou Divaris (seiljag) en die sportvrou van die jaar, Elma Davis (rolbal).
Christo Vermaak, joernalis van die Oudtshoorn Courant, is as die sportjoernalis van die jaar aangewys. Met dié toekenning is hy outomaties 'n finalis vir die Wes-Kaapse-sportraadtoekennings wat op Saterdag 16 September in Kaapstad plaasvind.
Hy het in April 2003 by Group Editors aangesluit en reeds sportberiggewing vir al Group Editors se koerante gedoen. Behalwe om aan Eden en Oudtshoorn se sportgebeure dekking te gee, asook ander koerante van Group Editors (waar van toepassing), word sy mediadekking deur verskeie ander koerante nasionaal erken en gebruik.
Volgens die voorsitter van die reëlingskomitee, Rudi Claassen, moes meer as 160 nominasies verwerk word om die wenners in die 31 kategorieë aan te wys.
"Nominasies van hoogstaande gehalte is ontvang. Die reëlingskomitee was aangenaam verras met die getal genomineerdes wat op internasionale vlak presteer het," het hy gesê.
Die gasspreker, prof. Willie van der Westhuizen, ook 'n Springboknaelloper van weleer het die opkomende sportmanne en -vroue aangemoedig om nie net te fokus op hulle huidige sportsoort as loopbaan nie, maar terselfdertyd ook te fokus en te beplan vir 'n alternatiewe loopbaan sodat die verskynsel van 'arm en behoeftige' sportpersone hulle nie op hul oudag tref nie.
Jenny Olivier van die Gemeenskapsentrum, Melkhoutfontein is as die gemeenskapsbouer aangewys.
Nadat die voorsitter van EDENSR, Desmond Speelman, almal welkom geheet het, het die Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, in sy spreekbeurt dankie gesê dat die funksie ook na Riversdal gebring is. Hy het die EDENSR geloof vir die puik manier waarop dit georganiseer en aangebied is.
Die burgemeester van Eden-distriksmunisipaliteit, Memory Booysen, het hom gevoeg by die bedankings en genoem dat dit hulle plig is om betrokke te raak by sport om mense se kapasiteit verder uit te bou. Namens die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, het die direkteur van sport, Thabo Tutu, weereens die ondersteuning van sy department onderstreep en is hierdie funksies in al ses distrikte, die toppunt van hulle beleid van sportfinansiering.
Die rol wat DKES (Eden) kantoor gespeel het, kan nie genoeg beklemtoon word nie en die programdirekteur, Dirk van der Westhuizen, was weer so pittig soos altyd.
Elzie Erasmus van Stilbaai met haar Legende sertifikaat.
Hierdie aand is moontlik gemaak deur vennote soos die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, die Hessequa-munisipaliteit, die Eden-distriksmunisipaliteit in samewerking met die Eden-sportraad.
As sekondêre borge het Group Editors, Leading Edge en Oudtshoorn Ford 'n groot rol gespeel.
Die wenners van die Eden-kategorieë soos aangebied deur die Wes-Kaap Sporttoekennings op 16 September, word outomaties finaliste. Hulle sal ingelig word sodra die finale reëlings ontvang is.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'