Gallery Update
RIVERSDAL NUUS - Plaaslike saalperdvertoners het einde April 'n groot invloed by die SA kampioenskappe in Bloemfontein gehad waar deelnemers van oor Suid-Afrika, asook Namibië deelgeneem het.
Die geleentheid word as die wêreld se grootste buitelugskou beskryf en meer as 860 saalperde het vanjaar deelgeneem, waar ons eie dorp se ruiters hulle baie goed van hul taak gekwyt het.
Kobus Gerber, voorsitter van die perdekomitee van Riversdal-skou was een van twee baanmeesters tydens die kampioenskappe. Baanmeesters moet die orde handhaaf en toesien dat alle reëls en regulasies toegepas word.
Die Amerikaanse beoordelaars was Michael Turnstall van Kentucky, Ellen Beard van North Carolina, Kristen Strivers van Kentucky en Sandra Currier van Texas.
FOTOGALERY: SA kampioenskappe in Bloemfontein
Carol Badenhorst met War Sports. SA Groot Vyfgang Kampioen, 'n uitstekende prestasie waaroor lank gesels gaan word.
Plaaslike uitslae
• Liza Gerber het die perd, All Fired Up vir die eienaar Corné van Zyl in die 3G Plesierperd Ruiter 40 jaar en onder afdeling geskou en sesde plasing verwerf. Die perd is deur Koekie de Villiers afgerig.
• Ilke Muir word deur die Tears & Roses-stalle van die Paarl afgerig. Ilke en haar perd, Olympic War het 'n vyfde plasing in die 5G Plersierperd vertoon deur 'n ruiter 18 jaar en jonger. Sy het ook 'n derde plasing in die 5G ruiterkunsklas verwerf. In die Groot Kampioenskap vir 5G Plesierperde vertoon deur juniors het sy 'n algehele sesde plasing gekry.
• Kokkies Rademan en Supreme Flirt het 'n vierde plek in die 5G Plesierperd-afdeling gekry en so gekwalifiseer om aan die Groot 5G Plesierperd kampioenskap deel te neem. Hier het die span 'n algehele vyfde plasing verwerf. Supreme Flirt is geteel en word ook afgerig deur Kokkies.
• Michelle van Zyl, dogter van Thys en Elaine Benson het ook haar terugkeer in die baan met hul eie geteelde perd, Cheri-Oke gemaak. East Hill-stalle van Roberston rig die perd af. Michelle en Cheri-Oke behaal 'n vyfde plasing in die Amateur Siertuig vertoner 40 jaar en jonger. Hulle neem deel aan die SA Groot Kampioen Amateur siertuig en behaal 'n algehele vierde plek.
• Die Joubert-dames van Kweekkraal het 'n besonderse skou beleef. Hulle word deur die De Bosch-stalle in Stellenbosch afgerig. Korine Joubert vertoon Wild Tower en behaal 'n vierde plasing in die Groot 3G Plesierperd kampioenskap vertoon deur 'n junior.
• Rika Joubert en Sweet Annie wen die 5G Plesierperd vertoon deur 'n volwassene. Hulle word ook aangewys as die Reserwe Groot Kampioen 5G Plesierperd. Die vul, I'm Charming is as die Reserwe ASF Kampioen aangewys. Beide Sweet Annie en I'm Charming is deur Joubert Kweekkraal geteel.
• Anja Joubert en Exclusive 'O Lee is die Kampioen 3G Ruiter onder 18 jaar. Hierdie gedugte span word ook bekroon as die 3G Kampioen van Kampioene.
• Die SA Groot Kampioen Vyfgang perd is Riversdal-skou se eie 5G kampioen. Dit is War Sports wat vertoon word deur Carol Badenhorst. Hierdie span het ook hul kwalifiserende klas gewen. Carol en War Sports word deur Charl Oosthuizen-stalle in Wellington afgerig.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'