Die afgelope naweek het die Oakdalers hul reputasie as wêreldkampioene gestand gedoen toe hulle as verteenwoordigende Suid-Afrikaanse span die Wêreld Toutrekkampioenskap in Madison, Amerika gewen het.
Die 560kg-span het reeds in Maart vanjaar die SA Toutrekkampioenskap in George gewen en is aangewys as die SA Protea-span vir deelname aan die wêreldkampioenskap in Amerika.
Op Saterdag, 30 Augustus het die span tydens die wêreldkampioenskap teen die volgende lande te staan gekom: Amerika, Chinees Taipei, Swede, Switserland en Duitsland.
Die Oakdale-span het al hul trekke gewen en na die semi-finaal deurgedring waar hulle teen Swede gewen het om tot die finaal deur te dring om teen die 2013 wêreldkampioene, Switserland te trek. Hulle wen ook die finaal en word as die 560 kg toutrek wêreldkampioene vir 2014 gekroon. Tydens die kompetisie het die span slegs een uit vyftien trekke afgestaan.
Oakdale het reeds by ses geleenthede in die verlede die land by die wêreldkampioenskap verteenwoordig, waarvan hulle by vier geleenthede as wêreldkampioene gekroon is. Hulle wen hul eerste wêreldkampioenskap in 2005 in Italië en daarna ook in 2008 en 2012 onderskeidelik in Swede en Switserland. Verlede jaar het hulle 'n silwer medalje uit Nederland huis toe gebring.
Die span bestaan uit twaalf lede, waarvan slegs twee in graad 12 is en die res in graad 9 tot 11. Dit verseker, soos vorige jare, 'n blink toekoms vir Oakdale- en SA-toutrek. Die span kon met behulp van die volgende borge na Amerika toer: Sentraal-Suid Koöperasie, Nulandis en Mutual en Federal Agri.
Die span onder afrigting van Piet Lourens en spanbestuurder, Malan du Plessis keer vandag, 4 September na Suid-Afrika terug.
Volgens André Latsky, skoolhoof is Piet Lourens bekend vir sy puik afrigting en is hy ook die afrigter van die o.23-toutrekspan wat aan die wêreldkampioenskap deelgeneem het.
"Ouers, oudskoliere en leerders is baie trots op die span wat hul doelwit tydens die kampioenskap met groot sukses verwerf het," het André gesê.

Oakdale se 560kg-toutrekspan is amptelik die beste in die wêreld.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'