RIVERSDAL NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal se Protea-toutrekspan het gister suksesvol in reënweer ingeweeg en gekwalifiseer vir Twif (Tug of War International Federation) se wêreldtroutrekkampioenskap in Mannheim, Duitsland.
Sowat 1 500 klubatlete van 25 lande neem van 5 tot 8 September in verskillende gewigsafdelings by die Alsenweg-stadion in Mannheim deel.
Die Oakdalers verdedig hul wêreldtitel die derde keer. Volgens die weervoorspelling kan daar nóg reën verwag word en ook ‘n aantal warm dae met temperature van tot 31 grade.
“Ons het geoefen vir alle omstandighede: nat veld, stof veld, droë veld en alle kombinasies daarvan. Ons is gereed!” sê Piet Lourens, die afrigter. Hy word ondersteun deur die spanbestuurder Abrie de Wet, en die biokinetikus Ivan van Zyl.
Die veertien seuns moes die afgelope ruk opofferings maak om aan die regulasies van die 560 kg-gewigsafdeling te voldoen. “Hulle dieet het meestal uit proteïene bestaan. Dit word nou met stysel - veral “pasta, pasta, pasta!” aangevul. “Nee, wat, hulle het darem al kwaai geëet; dit wat hulle moet,” lag Piet.
Hul streng dieet word met gesondheidskommels aangevul wat die nodige vitamiene, minerale en elektroliete ingesluit. En van nou af moet hulle baie water drink; elkeen minstens ses tot agt liter daagliks. Van die seuns het sedert gister al vyf kilogram opgetel. Van hulle gaan tot oormôre, tot vyftien kilogram aansit. "Ons trek sterk! Almal hierby betrokke, lééf die waardes en dissipline van dié sport: respek, eenheid, tradisie, spangees, stryd en krag.”
Suid-Kaap Forum volg die Oakdalers se vordering tydens die wêreldkampioenskapkragmeting en sal gereeld verslag aanlyn lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’