RIVERSDAL NUUS - Die tradisionele Oakdale-Akkerfees word na die afwesigheid van twee jaar, weer gedurende die naweek van 10 en 11 Junie op die terrein van Hoër Landbouskool Oakdale aangebied.
Ouers, oudskoliere en vriende van die plaaslike skool, asook besoekende skole sak gedurende hierdie naweek op die dorp en omgewing toe.
Die Akkerfees is veral bekend vir die sportdag op Saterdag waartydens 20 rugbywedstryde teen Paarl Gimnasium gespeel sal word.
Rondom die sportvelde sal verskeie kosstalletjies, coffee shop en uitstallings tot 'n feestelike atmosfeer bydra.
Die tradisionele groente-, vrugte- en vleisverkope sal op die grasperk voor die skoolsaal geskied. Vooraf vleisbestellings kan by die skool geplaas word. Besoekers kan ook ‘n heerlike boere-ontbyt in die Fanie du Toit-sentrum geniet.
Die Akkerfeesdans en veiling wat Vrydagaand in die Riversdal-skousaal aangebied word, is enig in sy soort en slaap meeste Oakdale-ouers die aand in die omgewing oor ten einde hierdie sosiale geleentheid by te woon. Danskaartjies is by die skool beskikbaar.
Die 2022 Oakdale-Akkerfees beloof om 'n genotvolle sport- en kuierdag te wees vir 'n ieder en 'n elk. Skakel die skool by 028 713 2549 vir verdere navrae.
Akkerfeesprogram
Vrydag 10 Junie
- Akkerfeesdans en veiling om 19:00 in die skousaal.
Saterdag 11 Junie
- Sport- en kuierdag vanaf 07:30 tot 15:45.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'