NETBAL NUUS - Die Wêreldbeker-netbaltoernooi, wat oor 21 dae in Kaapstad aangebied word, is in verskeie opsigte 'n toernooi van eerstes.
Dis die eerste keer wat dit in Afrika aangebied word en terselfdertyd ook 'n eerste vir Suid-Afrika. En met die Wes-Kaap as gasheer, is dit 'n eerste vir die land se bes bestuurde provinsie.
Die netbaltrofee wat op die spel is, toer die afgelope 52 dae deur die land met Cecilia Molokwane, president van SA Netbal, wat saamreis om ondersteuning vir Suid-Afrika se netbalspan aan te moedig.
Woensdagmiddag het die trofee in Riversdal kom draai waar dit ná afloop van 'n netbalkliniek aan die inwoners, leerders en 'n groep netbalspelers vertoon is.
Molokwane is deur Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kulturele sake en sport, en Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, vergesel. Verskeie eregaste was ook onder die genooides.
Leerders van Panorama Primêr, sing 'n bekende liedjie van Kurt Darren terwyl Cecilia Molokwane, president van SA Netbal hulle begelei. Die skool het met die aanvang van die verrigtinge die Suid-Afrikaanse Volkslied gesing en is daarna toegejuig.
Dit gons behoorlik in netbalkringe na die nuus dat Lefébre Rademan (26), oudleerder van Hoërskool Langen-hoven en 'n spesialis-hulpdoel wat die Proteas reeds in 35 toetse verteenwoordig het, slegs as een van drie reserwes in die Proteas se groep van 15 opgeneem is.
Rademan het einde verlede jaar by die Statebondspele in Engeland kruisligamente in haar knie geskeur en het ná rehabilitasie einde April vanjaar haar terugkeer gemaak in die nasionale liga vir die Vrystaatse Crinums.
Hugo Redelinghuys het die foto's (in die skemer) geneem.
Cecilia Molokwane (links), president van SA Netbal, Anroux Marais,Wes-Kaapse minister van kulturele sake en sport, en die Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, stap deur die erewag wat deur leerders van Panorama Primêr gevorm is.
Netbalspelers en leerders luister na die besielende toespraak van Cecilia Molokwane.
Cecilia Molokwane, president van SA Netbal, toer al die afgelope 52 dae deur Suid-Afrika om die netbaltrofee aan inwoners te wys en hul ondersteuning vir die Proteas te werf.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'