RIVERSDAL NUUS - Die Riversdal-rolbalklub se besigheidsliga begin weer op 2 Februarie met 'n losmaker wat ook as 'n oefenwedstryd sal dien.
Die eerste ronde wedstryde in die opwindende en hoogs vermaaklike sosiale liga begin op 9 Februarie. Die liga eindig op 1 Junie.
Slegs 24 spanne sal toegelaat word om deel te neem. Spanne moet vóór 6 Februarie registreer of aandui dat hulle gaan deelneem. Die inskrywingsgeld moet ook voor 9 Februarie inbetaal word.
Spanne van besighede word nou reeds sterk aangemoedig om hul spelers nader te trek en hul spanne gevul te kry.
Die algemene publiek is ook welkom om hul eie spanne in te skryf met vier spelers per span.
Die inskrywings-koste vir die seisoen beloop R600 per span - dus R150 per speler.
Slegs spelers met platsoolskoene sal op die baan toegelaat word sodat die rolbalperke nie beskadig word nie. Kroegfasiliteite - 'n baie belangrike deel van dié liga - is beskikbaar en spelers word wel toegelaat om hul nat rantsoene op die baan te geniet terwyl hulle balle rol. Daar is 'n kaartmasjien beskikbaar vir enige betalings.
Klubspelers mag nie as spanlede gekies word nie tensy 'n spanlid op die nippertjie onverwags onttrek en die span dan onvolledig is. Klubspelers mag slegs as 'n lei ingespan word.
Indien iets soos reën spel op 'n Donderdag onmoontlik maak, sal geen ekstra wedstryde gespeel word om dit in te haal nie. Dié besluit berus by bestuur.
Elke span sal 'n punt verdien sou wedstryde afgestel word en die volgende ronde wedstryde gaan volgens die spelprogram afgehandel word. Verlore wedstryde word dus nie op 'n ander weeksdag herhaal nie.
Die sosiale rolballiga is eintlik 'n ernstige besigheid. Vra maar vir Jovan Simon, wat hier pleitend op sy knieë gedwing word. Die omstanders, almal ernstige spelers, hou dié petalje angstig dop. Foto's: Hugo Redelinghuys
Let veral op na:
- Die sperdatum vir inskrywings;
- Die datum van die oefenwedstryd vóór die aanvang van die amptelike wedstryde;
- Maak seker daar is genoeg balle vir elke span om mee te speel, veral diegene wat nie hul eie balle besit nie.
Vir enige navrae stuur 'n WhatsApp aan Celvin Basson na 073 148 7717.
Spelers wat op die WhattApp-groep wil kom kan vir André Heyns bel by 067 063 4344.
Dis 'n goeie rol, juig Adri Don.
Die Riversdal-rolbalklub se besigheids-liga is 'n heerlike sosiale wegbreek-geleentheid, selfs vir nie-spelers.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'