JUKSKEINUUS - Die voorseisoen van die amptelike jukskeiprogram het verlede Saterdag, 11 Desember ten einde geloop.
Geen georganiseerde jukskei sal tot en met 22 Januarie in Eden-distrik gespeel word nie. Dit gee aan jukskeispelers 'n blaaskans om ongesteurd die Kerstyd, asook die begin van die nuwe jaar saam met hul geliefdes deur te bring.
Groot verwagtinge is gekoester ten opsigte van die byeenkoms op 11 Desember. Tog het klubs teleurgestel. Klubs buite Hartenbos het verswakte spanne ingeskryf. Gevolglik het die tuisspanne op eie inisiatief, veral wanneer teen die swakker B- en C-spanne gespeel is, van hul spelers uitgeruil ten einde meer kompeterende mededinging te verseker.
Voormelde reëling het vrugte afgewerp sodat wegholoorwinnings tot die minimum beperk is.
Hartenbos het drie spanne in die B- en een span in die C-afdeling ingeskryf. Riversdal het een B- en een C-span terwyl Albertinia slegs een C-span ingeskryf het.
'n Verdere positiewe besluit deur Hartenbos, wat die program beplan het, was om al die spanne teen mekaar te laat speel. Wedstryde was beperk tot slegs 45 minute elk. Die eindfluitjie het om 15:15 geblaas om die einde van 'n stimulerende dag se spel aan te kondig.
Die finale uitslae is soos volg:
B-afdeling:
Hartenbos B1 (67); Hartenbos B2 (52½); Hartenbos B3 (44½); Riversdal B (44½).
C-afdeling:
(Spanspel) Albertinia (40); Hartenbos (36); Riversdal (30½).
Die amptelik geskeduleerde oefeninge van die Hartenbosklub begin op 11 Januarie. Spelers kan met vrymoedigheid eie reëlings tref vir oefeninge soos dit hulle pas tot en met voormelde datum.
Die voorsitter van die Hartenbos-jukskeiklub het tydens die opening alle spelers en hul dierbares 'n geseënde Kerstyd en 'n voorspoedige en vreugdevolle 2022 toegewens.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'