STILBAAI SPORT NUUS - Die skielike sterk wind wat deur die loop van Saterdagoggend 29 Februarie oor Droëvlakte opgekom het, het nie die 39 deelnemers aan dié jaar se eerste Kasselshoop farm run/stap afgeskrik nie.
Inteendeel, dit het Nollan Verlaat van Melkhoutfontein slegs 29:35s geneem om die 5,7 km-roete af te lê.
Hy is deur Justin Hewitt in 'n tyd van 31:15s gevolg. Stilbaai se Johan Barnard het gewys waar Dawid die wortels begrawe het en was net meer as drie minute agter Hewitt vir die derde plek. Die twee Rademeyer-boeties van Stilbaai, Alrich en Gysbert het saam-saam by die einde aangekom om die top vyf van die mansafdeling af te rond.
Die eerste dame oor die wenstreep was Susan Texeira van Albertinia in 'n tyd van 37:30s. Suzanne Riekert en Adrie Swart, albei van Riversdal, was onderskeidelik tweede en derde. Jacques Coetzer en Anélda Coetzer het die toptien voltooi.
Die Kasselshoop farm run-reeks word vanjaar vir die derde keer aangebied en die skrikkeldag-byeenkoms was die eerste van 10 wat vir die jaar beplan word.
Deelnemers kan die gemerkte roete teen hul eie pas voltooi, hetsy om 'n goeie tyd aan te teken of net 'n oggendstappie in die veld te geniet. Só het verskeie stappers eers die kleurvolle veldblomme waardeer en opgevang met geselsies. Dit was Danika Blom (4) van Stilbaai se eerste besoek aan dié plaas en sy het dit terdeë geniet.
Al die deelnemers ontvang medaljes by die einde, terwyl die tye deur lede van mediese fondse gebruik kan word om punte in te samel.
Die volgende byeenkoms vind in die skoolvakansie op 21 Maart plaas.
Gysbert (links) en Alrich Rademeyer. Foto: Richard Webb
Van links: Cobus Jordaan, Keann Oktober (10), Inge Schreve, Rita Jonker en Annette Haupt.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'