STILBAAI NUUS - Die sewende jaarlikse Hessequa Heritage Trail Run vind vanjaar op 21 September plaas.
Daar is 'n 5 km- en 16 km-roete om van te kies.
Die 16 km-roete gaan by die getypoel in Jongensfontein begin en eindig by die Stilbaai-toerismeburo by Palinggat, terwyl die 5 km-roete by die Skulpiesbaai-parkeergebied bokant die visvywers begin en dan dieselfde roete volg as die langer wedloop.
Langs die roete sal hardlopers kuslangs verby die antieke visvywers en skulphope draf asook die Wafra-tokboot by die NSRI, talle monumente en van die oudste vakansiehuise in Stilbaai totdat hulle by die Palinggat-kantoor, wat ook 'n Nasionale Gedenkwaardigheid is eindig.
Elke deelnemer wat klaarmaak sal 'n unieke medalje ontvang.
Daar sal vervoer wees na Jongensfontein en die optelpunt is by Laerskool Bertie Barnard aangesien daar nie genoeg parkeerplek by die eindpunt is nie.
Verdere inligting kan gekry word by www.stilbaaitourism.co.za (Heritage Festival & Trail-runs) of op die Facebook-blad (Hessequa Heritage Festival).
Die kantoor kan ook geskakel word by 028 754 2602.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’