Hierdie toernooi is die grootste jaarlikse rolbal gebeurtenis in Suid Afrika en daar is beraam dat tydens die vorige toernooi in 2009 meer as R7 miljoen in die streek deur spelers gespandeer is.
Die dames speel van 13-21 April 2013 terwyl die mans twee weke later van 4-11 Mei 2013 hul slag sal wys. Die toernooi vind plaas in 'n tydsgleuf waar daar relatief min besigheidsaktiwiteite in die Suid-Kaap plaasvind en daar bestaan dus 'n gulde geleentheid vir gastehuise, kampeerterreine, hotelle, eetplekke en winkels om by hierdie toernooi in te koop.
Die reëlingskomitee is by uitsondering van Christine Lombaard dieselfde staatmakerspan verantwoordelik vir die suksesvolle aanbieding van die 2005 en 2009 toernooie.
Besighede en instansies wat wil deel wees van hierdie toernooi by wyse van borgskappe, reklame of pryse, kan nou hul voorstelle maak by Akker van der Merwe (044 871 1416 en 082 800 2026) of by die bestuur van hul naaste rolbalklub in die streek.
Verdere inligting is ook beskikbaar by Kallie Haupt (sameroeper) by 044 874 0649 of 082 927 3625.

Die taakspan aan die stuur van sake van die Kaapse Rolbaltoernooi is van links Christine Lombaard, Kallie Haupt , Koos Louw , Akker van der Merwe en Jenny Sinclair.