GEORGE NUUS - 'n Groot eer het 'n plaaslike lewensredder Tanya Osborne, te beurt geval. Sy gaan van 20 tot 26 September aan die World Lifesavings Champs in Riccione, Italië, deelneem in die 45 tot 49 jaar ouderdomsgroep.
Osborne vertrek oormôre, Saterdag 17 September, na die buiteland. Die geleentheid vind elke twee jaar plaas. Dit was veronderstel om in 2020 plaas te vind, maar is weens Covid-19 afgestel.
Die kompetisie word op twee vlakke beslis: in 'n swembad en in die see. Lewensredders se vaardighede word op verskeie vlakke getoets en hulle kry punte daarvoor. Dit word oor drie dae beslis.
Sy het 'n lang pad geloop en is al verskeie jare by swem en lewensredding betrokke. Osborne kom oorspronklik van Zimbabwe en het later saam met haar familie na Suid-Afrika verhuis.
In 1985 het sy in Natal by lewensredding betrokke geraak. Sy het daarvan gehou en sy het later mededingend begin deelneem.
Sy het ook junior Springbokkleure in tweekamp en provinsiale klere in lewensredding en swem verwerf. Sy het ook provinsiaal waterpolo gespeel.
In 2012 het sy na George verhuis.
Tanya Osborne
In die verlede het sy die SA lewensredder van die jaar-toekenning gewen en vir ses maande in Amerika op 'n uitruilprogram gewerk. Sy het ook as 'n professionele lewensredder vir vyf jaar in Amanzimtoti, Natal gewerk.
Sy sien baie daarna uit om in Italië te gaan deelneem. So byna het dit nie gebeur nie, want in Mei vanjaar, het sy 'n skoueroperasie ondergaan. Sy moes eers behoorlik herstel.
Osborne is baie lief vir die sport en dit sal vanjaar die laaste keer wees wat sy in die bepaalde ouderdomsgroep kan deelneem. Die volgende kampioenskappe na die huidige kampioenskappe, is in 2024 in Australië. As sy dan wil meeding sal dit in die ouderdomsgroep 50 tot 54 moet wees.
Haar advies aan mense as hulle in die see swem, is om hul beperkings te ken. As jy in die moeilikheid beland, moenie paniekerig raak nie, probeer net dryf.
Swem ook te alle tye waar lewensredders aan diens is en gehoorsaam hulle.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'