RIVERSDAL NUUS - Die Hessequa-dominoklub het op Sondag 24 Junie op dié dorp vir Langeberg streekspan 'n les geleer met hul oorwinning van 353-324.
Langeberg kon net hulself blameer, omdat hulle met 200-158 in die eerste helfte voorgeloop het. Hessequa het daarna teruggeveg en soete oorwinning gesmaak.
Domino's is op altesaam sewe tafels gespeel. Langeberg het een tafel gewen, twee gelykop gespeel en vier tafels verloor.
Hul voorsitter het in sy toespraak genoem dat hy oortuig was sy span sou wen en Hessequa gewaarsku dat die bordjies verhang sal word op Dinsdag 2 Oktober op Robertson.
Hessequa se volgende wedstryd is teen Boland op Sondag 5 Augustus op Ashton. Die bestuur vra die gemeenskap om hulle te ondersteun met donasies vir die toernooie.
Die Hessequa-dominovereniging bedank Sheila Adams en haar span vir die voorbereiding van die verversings wat hulle verskaf het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'