Gallery Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Die immergewilde Erfenisfees-pretdraf is op Saterdag 24 September vir die sesde jaar aangebied.
Volgens die organiseerders, Elza en Adolf Botes, is die roete oor 16 km en 5 km elke jaar presies dieselfde en vind dit altyd op die Erfenisdag plaas met deelnemers wat van heinde en ver kom.
Baie mense, soos die Tortoise to Hare-vroue, neem as 'n groep deel en heelwat gesinne daag ook op vir die pretdraf.
Daar was vanjaar 197 deelnemers in aksie. Die 16 km het 97 deelnemers gelok en almal het dit voltooi. Deelnemers het vroegoggend by die getypoel in Jongensfontein weggespring en al met die see langs gehardloop tot by Stilbaai-hawe en toe het die roete hulle langs die Goukourivier gevat tot by Palinggat.
VIDEO: Braaidag draf-draf ingewy
Leon Adams van Riversdal het die derde agtereenvolgende jaar met die louere weggestap het in 'n tyd van 01:13:00. In die tweede plek was Nolan Verlaat van Melkhoutfontein (01:21:18) en derde was Anton Chevalier van George (01:22:29).
Die wegspring van vanjaar se Erfenisfees-pretdraf wat Saterdag in Stilbaai aangebied is. Foto's: Johan Victor
Die vrouewedloop is gewen deur Marilize Cilliers van Swellendam in 'n tyd van 01:33:49. In die tweede plek was Stilbaai se Mirjam Breedt (01:35:50) met Liesl Paul van Swellendam derde (01:38:50).
Die 5 km het by die parkeerterrein by Skulpiesbaai weggespring tot by die hawe en daarna ook langs die Goukourivier tot by Palinggat.
Hier was die manswenner Marthinus Baadjies van Melkhoutfontein (00:24:13). Tweede was Mihan Odendaal in 00:24:24 en Alrich Rademeyer derde in 00:24:25, albei van Stilbaai.
Die vrouewenners van die 16 km-roete. Van links: Liesl Paul (3de), Marilize Cilliers (wenner) en Mirjam Breedt (2de).
In die vroue 5 km-wedloop was Melissa Smit eerste in 00:28:51 en Tanya van den Berg tweede in 00:28:57. Shahnee George was derde (00:29:19).
By Palinggat het Stilbaai Toerisme, soos in die verlede, 'n heerlike feestelike atmosfeer geskep met musiek en talle stalletjies het oraloor opgeskiet met pannekoek, olyfprodukte, kos en allerlei ander peuselgoed.
Een ding staan soos 'n paal bo water: Op Erfenisdag lei alle paaie na Stilbaai se Palinggat waar gesinne hul gate uit geniet voor hulle huiswaarts keer.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'