STILBAAI NUUS - Die gewilde Berties Damesliga Netbaltoernooi in Stilbaai is in die pylvak en daar is nog net een stel wedstryde voor die finaal op 11 Maart.
Woensdagaand 28 Februarie het die Pannekoeke daarin geslaag om Berties met agt doele teenoor sewe te klop, maar hulle moes tot aan die einde spook om te wen.
Vir Berties, wat hard probeer het, het die eindfluitjie net te gou geblaas.
In die ander wedstryd het Game Over hulle segetog voortgesit teen One Hit Wonders.
Game Over het die wedstryd gewen met 28 - 5 en daar is absoluut geen keer aan hierdie span nie.
Hulle samespel en akkuraatheid sal menige SWD liga-span kous oor die kop huistoe stuur.
Thunder Birds, Berties en die Pannekoeke is baie naby mekaar op die puntelys en enigeen van hulle kan nog deurdring na die finaal.
Woensdag 6 Maart se wedstryde behoort dus baie interessant te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’