OUDTSHOORN NUUS - Atlete van sewe provinsies spook sake môre, Saterdag 3 Februarie op Oudtshoorn uit tydens die 27ste interprovinsiale Oudtshoorn / Highgate-tweekampbyeenkoms. Provinsie wat verteenwoordig gaan wees is, WP, Boland, SWD, OP, Vrystaat, Grens en Griekwas.
Van Suid-Afrika se toptweekampatlete wat mekaar die stryd gaan aansê, is Mike Forbes (Grens), Johan Windt, Chris van Wyk, Tanya Osborne, Bernard Zaayman, Bianca le Grange, Herman Spangenberg, Marius-Hugo en Gustav Schlechter (almal SWD), Retief Ochse, Kelly Vroon, Jeandré Swanepoel, Roger Bezuidenhout en Derek Oehley (almal WP), Ilse Beukman, Liezel Wessels, Jannie Briers-Louw en Daniel Malan (Boland).
Highgate Volstruis-vertoonplaas (ankerborg van SWD Tweekamp) en Kango-grotte, bied weer spesiale aansporingpryse aan vir alle wenners. Die ander groot borge is die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport Oudtshoorn Ford en die Oudtshoorn-munisipaliteit.
Die spankompetisie gaan vanjaar groot uitdagings van WP, Boland en OP vereis. Elke provinsiale span word ook toegelaat om 'n A-span, B-span en ontwikkelingspan in te skryf. Dit is een van die min byeenkomste waar die ontwikkelingsatleet ook tot sy reg kom. Daar word weer vanjaar vir gestremdes atlete voorsiening gemaak. Hulle baanitem bestaan uit 400m en swem 50m.
Die tweekamp vind Saterdag (opening 07:30, hardloop begin 08:00) by die De Jager-sportkompleks plaas. Die swemitems vind na die baanitems by die NA Smit-swembad plaas.
Toegang is gratis.
Vir enige navrae kontak Dave van der Walt (082 773 4901).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'