Gallery
WITSAND NUUS - Die Vlakte-marathon het sy 21ste bestaansjaar vanjaar met 'n rekordgetal inskrywings gevier. Altesaam 1260 atlete van 68 atletieklubs landwyd het verlede Saterdag opgedaag om aan die gewilde marathon, Hessequa se enigste, deel te neem.
Uit die Kaap het talle atlete van Melkbos, Tygerberg, Gugulethu, Houtbaai, Bellville, Brackenfell, die Paarl, Strand, Houtbaai, Hangklip en Worcester opgedaag.
En uit die Noorde was daar drawwers uit Gauteng uit plekke soos Boksburg en Krugersdorp. Selfs uit Stutterheim was daar deelnemers.
Nico Steyn, voorsitter van Langeberg-atletiekklub en ook wedrendirekteur van die Vlakte-marathon, het aan Suid-Kaap Forum gesê hulle is erg trots op die ongelooflike opkoms.
"Vir die eerste keer het ons die 1000-kerf verbygesteek, wat die 21ste bestaansjaar van die Vlakte-marathon 'n baie spesiale betekenis gee."
FOTOGALERY: Rekordgetal inskrywings by 21ste Vlakte-marathon
Liezl van Dyk (links)
Op 'n vraag waaraan hy die goeie bywoning toeskryf, het hy gesê daar is 'n paar redes:
"Eerstens, verseker die platterige roete vinnige tye vir atlete wat dit gebruik om vir die Comrades te kwalifiseer. Tweedens is daar is ook uitstekende waterpunte en derdens bied die eindpunt 'n asembenemende uitsig op die see wat jou moegheid net daar laat verdwyn. Boonop het die weer mooi saamgespeel."
Hy glo die plattelandse ervaring wat die Vlkate-marathon bied is nog 'n belangrike rede wat die wedloop só gewild maak. "Ons enigste werklik uitdaging is om tussen Heidelberg en Witsand voldoende verblyf vir die besoekers te vind. "Ons sal beslis 'n oplossing hiervoor moet kry."
Nico glo nie dat hulle nog 'n ekstra wedloop of twee vir Hessequa op die kalender kan inpas nie. "Ons is redelik versadig en ons beplan in dié stadium niks ekstra nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’