ALBERTINIA NUUS - Poen Vermaak het vir groot opwinding gesorg toe hy sy pryse tydens Kansa se fondsinsamelingsgholfdag op Saterdag 5 Mei vir geld opgeveil het.
Na 'n woelige veiling is die bod vir ses gholfballe en 'n drasak op R1 000 toegestaan. Vermaak is vir dié pragtige gebaar bedank. Wikus Louwrens het 'n skaap geskenk en baie lootjies is verkoop. Hannatjie Bosch van Mosselbaai se lootjie was getrek.
Wimpie Janse van Rensburg wen die A-afdeling en Johan Nel is die wenner van die B-afdeling.
Die gemeenskap kon vroegoggend aan 'n pretstap deelneem waarna spelers afgeslaan het.
Volgens Minette van Zyl, verteenwoordiger van Kansa, is mediese koste net te duur en word tans in 26 dorpe in die Suid-Kaap aan 1 740 pasiënte ondersteuning gebied.
Sy is baie gelukkig met die ondersteuning wat baie gholfklubs bied en het almal bedank vir hulle bydrae.
Die wenners van elke afdeling kwalifiseer vir die Suid-Kaap finaal, wat teen einde Julie in George gespeel gaan word.
Die Suid-Kaapse wenners kwalifiseer dan vir die nasionale kampioenskap, wat op Sun City gespeel sal word. Die dag is met 'n lekker steakbraai afgesluit en bykans 70 mense het lekker saam gekuier om by te dra tot addisionele fondse vir Kansa.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'