STILBAAI NUUS - Wanneer die Suid-Kaapse Sagesspelers Stilbaai besoek, kan mens altyd uitsien na 'n goed georganiseerde byeenkoms en 'n gasvrye ontvangs.
As die weer ook nog saamspeel soos op Maandag 17 Julie, is dit nog 'n groter bonus om daar gholf te speel. Die baan is lowergroen ná die onlangse reën en die skoonvelde lyk soos groen tapyte.
56 Sageslede het aan die vierbal-samespelkompetisie in Stilbaai deelgeneem op die sogenaamde Waltzing Mathilda- formaat.
Dit beteken dat die beste Stableford-telling onder die vier spelers op putjie een tel, twee s'n op putjie twee en drie op putjie drie. Dan word die proses herhaal tot die 18 putjies voltooi is.
Die volgende spanne het die meeste punte aangeteken:
- Susan Buys (Stilbaai), Kwartus Sieberhagen (Mosselbaai), Marius Loubser (Boggomsbaai) en Chris van den Berg (spookspeler ) 91 punte.
- Charl Marais en Pinoc Jacobs (Stilbaai), Denzel Geldenhuys (Riversdal) en Freddie Stander (Boggomsbaai) 90 punte.
- Lee Lippiatt en Tony Postma (Stilbaai), Tony Muller en Chris van den Berg (Mosselbaai) 88 punte.
- Thys Cronjé, Mart Cronjé, Branko Celica en Peet Duncan (Stilbaai) 87 punte.
- Alwyn Vorster en Bruce Waldek (Stilbaai), Martin en Eleonor Speelman (Mosselbaai) 87 punte.
- André Bezuidenhout, Janet Ristow, Melinda Gravett en Gary Ristow (Stilbaai) 86 punte.
- Willie Roos, Pieter Potgieter, Willie Albertyn en Karel Lewis (Stilbaai) 84 punte.
- André Beukes en Andries van Schalkwyk (Boggomsbaai), Dirk Bosman en John Gillespie (Stilbaai) 84 punte.
Die naaste aan die penne was Hendrik Cronjé (Stilbaai) op 2/11 en Branko Celika (Stilbaai) op 8/17 en hulle het elkeen weggestap met 'n heerlike pak wors van JC Slagtery in Riversdal. Chris van den Berg (Mosselbaai) en Martin Speelman (Mosselbaai) het albei spogtwees aangeteken.
Die volgende Sages-saamtrek is die uitgestelde Kansadag in Mosselbaai op 7 Augustus.
Die Suid-Kaap Sages het met groot hartseer kennis geneem van die dood van een van sy jare lange lede, Tannah Harris, en betuig dan ook hul innige meegevoel met sy vrou, Berti. Hulle betuig ook meegevoel met die familie van Donald Bokkelkamp van Riversdal ná sy skielike dood. Mag beide families berusting vind.
Die volgende nuwe lede word in die Suid-Kaap Sages-familie verwelkom; Johan Verster van Mosselbaai, Henry Namann, Avril Kruger en Freddie Linder, almal van Stilbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’