SUID-KAAP NUUS - Die tradisionele Stigtersbekertoernooi tussen die Suid-Kaap en Outeniqua Sages het op 'n oorwinning vir die Suid-Kaap uitgeloop, die eerste in jare.
Anders as die Protea-krieketspelers, het die Suid-Kaap die tuisveldvoordeel op Mosselbaai deeglik gebruik om 'n klinkklare oorwinning oor Outeniqua op Maandag 5 Februarie te behaal.
Sages het 'n hele paar jaar gelede besluit om die streek vanaf Heidelberg in die weste tot by Plettenbergbaai in die ooste in twee te deel as gevolg van die afstand.
So het Outeniqua en Suid-Kaap dan hul ontstaan gekry en speel hulle tradisioneel elke jaar teen mekaar om hul noue verbintenis in die verlede te herdenk.
In die beterbalkompetisie het Suid-Kaap 'n gemiddeld van 44,1 per beterbal gehad teenoor Outeniqua se 41,7. 66 Sages-lede van die twee unies het kom speel en t oordeel aan die hoë gemiddelde Stableford-telling van albei unies, het dit sommer voor die wind gegaan met al die pare.
Wenpare
- Chris Barnard en Dawid Gerber (Suid-Kaap) 52
- Pierrie le Roux en Gary Ristow (Suid-Kaap) 46
- Leon en Noelle van Schalkwyk (Suid-Kaap) 46
- Hugh Seaton en Norman Patterson (Outeniqua) 45
- Wessel de Bruyn en Johan Swart (Suid-Kaap) 45
- George Sadowski en Dawid Venter (Suid-Kaap) 44
Naaste aan die penne is gewen deur John Richards (Outeniqua) op 4, Ernest Roux (Suid-Kaap) op 8, Norman Patterson (Outeniqua) op 12 en Chris McKay (Outeniqua) op 15.
Die organiseerders bedank JC Slagtery van Riversdal vir die borg van die naaste aan die penne.
Nuwe Suid-Kaap Sages-spelers wat Maandag vir die eerste keer gespeel het, is Dawid Gerber van Mosselbaai, asook Stilbaaiers Johan Swart en Bill en Celia Hart.
Van links is Gary Ristow, Pierrie le Roux, Dawid Gerber, Chris Barnard, Leon en Noelle van Schalkwyk.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'