RIVERSDAL GHOLFNUUS - Die afgelope Kansa-gholfdag by Riversdal-gholfklub het bewys dat gholf in die are van familielede loop.
Pa en seun, Willie en Therlow Prins het Saterdag, 20 Februarie met die louere weggestap op 49 punte, toe hulle die betterbal stableford-formaat kompetisie gewen het.
Danie Geldenhuys en Pieter du Plessis was met 47 punte kort op pa en seun se hakke om die tweede plek in te neem. Op 46 punte het John Charles en Albertus Swart die derde plek losgeslaan.
Om die vierde en vyfde plekke het familiebande weer samespel bewys. Oupa en kleinseun, Muller Geldenhuys senior en junior het op 'n 46 punt-uittel die vierde plek verower, terwyl pa en seun, Trevor en Keano Hendricks ook op 'n 46 punt uittel vyfde geëindig het.
Danie, wat in die tweede plek klaargemaak het, is die seun van Muller senior en die pa van Muller junior wat die vierde plek ingeneem het.
Vrydag, 19 Februarie se weeklikse Sundowner-kompetisie is deur Reon Grundlingh met 21 punte gewen.
Werner van Niekerk was tweede op 18 punte, met Jaco Swanepoel derde op 16 punte en Marco Booisen wat ook op 16 punte die vierde plek ingeneem het.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'