RIVERSDAL NUUS - In sy werk as polisieman maak hy jag op booswigte en kriminele, maar op die gholfbaan jag hy voëltjies, kolhoue en natuurlik gholftitels.
Daarmee is die 36-jarige Garnet Damans redelik suksesvol. Hy is so pas gekroon as Riversdal se klubkampioen, 'n titel wat hy ook in 2019 en 2021 ingepalm het.
Hy is al ses keer in die WP-polisiespan opgeneem en twee keer in die nasionale polisiespan.
Garnet is nou op pad na Sishen in die Noord-Kaap om die Suid-Kaap by die SA plattelandse kampioenskap te gaan verteenwoordig. Dit begin Maandag 9 Mei en eindig op Vrydag 13 Mei.
Hy ken die baan en het al voorheen daar gespeel, sê Garnet. "Dis beslis nie 'n maklike baan nie en verg groot akkuraatheid van veral die bowwe af. As jy hier skeef slaan, het jy probleme."
Garnet sê 'n hele paar faktore speel 'n rol in sy sukses op die gholfbaan.
"Ek is lief vir sport, veral vir gholf. As jy nie 'n passie vir iets het nie, sal jy nie sukses daarin behaal nie.
"Ek bestee ure aan my gholf en probeer om elke dag op die baan te wees. As ek 'n dag mis, probeer ek dit inhaal deur langer ure op die baan deur te bring. Dis oefen, oefen en oefen om jou spel op 'n hoë standaard te hou."
Hy het nog nooit enige gholflesse gehad nie, maar as baljoggie het hy "met sy oë gesteel," veral by 'n uitstaande speler soos Louis Oosthuizen, wie se sak hy hier in Riversdal tydens 'n toernooi gedra het. "Dit wat ek by goeie spelers opgetel het, het ek oor en oor geoefen."
Garnet sê sy grootste droom is om eendag in die Sonskynreeks in SA te speel. "Dit sal ongetwyfeld die kroon span op my gholfloopbaan, maar ek weet dis nie 'n maklike pad nie.
"Gelukkig het ek die volle ondersteuning van my vrou, Jo-aan, wat my al die pad bystaan om my drome na te jaag. Sy is my grootste steunpilaar."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'