Gallery
STILBAAI NUUS - Hessequa-munisipaliteit se jaarlikse burgemeestersgholfdag is Saterdag 10 Desember by die Stilbaai-gholfklub aangebied.
Die toernooi word jaarliks gehou met die doel om geld vir verdienstelike organisasies in die Hessequa-streek in te samel en vanjaar was dit ten bate van Melkhoutfontein Primêr.
108 spelers het in spanne van vier deelgeneem en nie eers die gure weer en reën kon hulle geesdrif demp nie.
Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, het almal bedank wat kom speel het en het gevra dat die spelers tog hulle hande diep in hul sakke moet steek, veral tydens die veiling wat ná die gholf gehou is.
Ruby Flores, skoolhoof van Melkhoutfontein Primêr, het ook van die geleentheid gebruik gemaak om al die spelers en die munisipaliteit te bedank vir die broodnodige fondse wat na hul skool sal vloei.
Sy sê dis 'n jare lange droom van haar om 'n skoolsaal vir die skool te kan oprig en alhoewel sy oor 'n paar dae aftree sal sy bly woeker om haar droom te verwesenlik. Die borgdag is 'n tree nader aan daardie skoolsaal.
FOTOGALERY: Jaarlikse burgemeestersgholfdag op Stilbaai
Die hoofborg, FNB, se Morné Potgieter, het gesê dat dit een van hulle doelstellings is om terug te ploeg in die gemeenskap en hopelik kan hulle volgende jaar nog groter gaan.
Fleur de Vie het R100 000 vir 'n kolhou (hole-in-one) op die sewentiende putjie gesit, maar niemand kon toe hulle hande op die prys lê nie.
Die wenners van die gholfdag was:
Tos Michaels, Leander October, Juandré Michaels en Andrew Michaels, almal van Melkhoutfontein.
In die tweede plek was Andrew Shand, Grandell October, Brian Michaels en Johan Erasmus van Heidelberg.
Derde was die Riversdallers, Elrick Julies, Garnett Damons, Charlton Sambo en Luwaiden Goliath.
Die wenvierbal van Saterdag se burgemeestersgholftoernooi wat by die Stilbaai-gholfbaan aangebied is. Van links: Grant Riddles, uitvoerende burgemeester van Hessequa-munisipaliteit, Tos Michaels, Leander October, Juandré Michaels en Andrew Michaels, almal van Melkhoutfontein. Foto's: Johan Victor
Die tweede plek is ingeneem deur 'n vierbal van Heidelberg. Van links: Grant Riddles, Andrew Shand, Grandell October, Brian Michaels en Johan Erasmus.
Die vierbal van Riversdal was algeheel derde. Van links: Elrick Julies, Garnett Damons, Grant Riddles, Charlton Sambo en Luwaiden Goliath.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'