ALBERTINIA NUUS - Die plaaslike gholfbaan is een van min bane ter wêreld wat nog sandsetperke het. Dit maak dit uniek onder gholfspelers weens die addisionele uitdaging om die bal in die gaatjie te kry.
Bykans 40 liter ou olie word op elke setperk gebruik om die sand te bind.
Die goeie toestand van die baan is deur spelers wat onlangs aan die Kansa-gholfdag deelgeneem het, geprys. Omdat die baan so uniek is, het van die spelers gaan inloer om te sien wat dit behels om so 'n baan te onderhou. 'n Beskeie Cecil (Kerneels) Nomdo (51), die baanopsigter wat self nie gholf speel nie, maar heeldag op die baan is het hulle meer vertel.
"Ek is reeds 11 jaar baanopsigter. Meestal werk ek alleen en probeer om elke dag iets aan die baan te verbeter. Wanneer ek die ruwe veld skoonmaak, spring daar baie maal 'n haas of twee uit. Selfs duikerbokkies het voorheen hul verskyning gemaak." Soms vind hy gholfballe wat van koers afgedwaal het. Hy maak hulle dan bymekaar en verkoop dit aan die lede.
Van die bykans ses groot gholfdae wat daar aangebied word, is die Sand Classic- en Louis Oosthuizen-gholfdae.
Op al die gholfdae moet die baan in 'n puik toestand wees en word dit reeds twee weke vooraf afgewerk.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'