HEIDELBERG NUUS - Heidelberg United-krieketklub het Saterdag 28 Mei hul algemene jaarvergadering (AJV) in die stadsaal gehou, waarna hulle hul erkenningsaand en afskeid in die banketsaal gevier het.
Die laaste erkenningsaand is in 2020 gehou as gevolg van die Covid-19-pandemie. Die verrigtinge is deur Carlo Williams met gebed geopen.
Heinrich Hartnick, voormalige sekretaris het die AJV gelei en ook later as nuutverkose voorsitter as seremoniemeester opgetree.
Die waarnemende voorsitter, Cecil Meyers, het 'n kort oorsig oor sy rol as voorsitter vir die afgelope paar maande gegee nadat Clive Pretorius verlede jaar as voorsitter bedank het.
Laasgenoemde is vir die eerste keer in die klub se bestaan as erepresident onbestrede voorgestel en verkies. Meyers is as ondervoorsitter verkies, Leon Hartnick as sekretaris en Michael Williams weereens as kassier.
Die ander vakature sal later tydens 'n algemene ledevergadering gevul word.
Heinrich het die lede bedank vir hul vertroue in hom gestel en 'n kort oorsig van sy visie vir die klub se toekoms voorgehou. Williams het sy finansiële verslag aan die aanwesiges voorgelees, waarna dit aanvaar is.
Die verkiesingsbeampte en gasspreker, wyksraadslid Abe Daniels, het die bestuur bedank dat hulle hom genader het omdat hy 'n passie het om 'n bydrae tot die ontwikkeling van die gemeenskap te lewer, maar veral dié van die jeug.
Hy het ook die spelers aangemoedig om hulle beste vir die sport te gee om sodoende hulle volle potensiaal te bereik. Hy het ook die oorhandiging aan die spelers gedoen.
Spelers het in vier kategorieë erkenning gekry
- Jaques Thyse (kaptein) is as speler van die jaar aangewys en is met die Clive Pretorius-wisseltrofee beloon;
- Corbin Swartbooi is as beste kolwer aangewys en het die Eastriyond Esau-wisseltrofee ontvang;
- Jaylin Opperman is as beste bouler aangewys en het die Ockert Verwey-wisseltrofee ontvang;
- Phillip Robertson is as mees toegewyde speler aangewys en is met die Samuel- en Denise-wisseltrofee beloon.
Die nuwe bestuur bestaan uit Leon Hartnick, Clive Pretorius (erepresident), Heinrich Hartnick, Michael Wiiliams en Cecil Meyers.
Die spelers is vir hulle uitsonderlike prestasie gedurende die 2021/22-seisoen beloon. Van links: Corbin Swartbooi, Jaques Thyse en Jaylin Opperman. Phillip Robertson was afwesig tydens die verrigtinge. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'