RIVERSDAL NUUS - Heidelberg United Krieketklub het Saterdag, 17 Januarie met hul puik oorwinning oor hul aartsvyand, Riversdal Krieketklub, gesorg dat hulle op koers bly toe hulle die tuisspan oortuigend met 132 lopies geklop het.
Hiermee is hul verseker om in die semi-finale van die SWDKR se Sedgars Promosieliga mee te ding. Dié oorwinning was soete wraak vir die besoekers se eerste rondte verloor op hul tuisveld.
Vir die tuisspan het Jason van Rensburg en Granwin Scholtz die beste met die bal gevaar deur onderskeidelik 2/27 met 1 leeg na 8 en 2/36 na 6 beurte, plat te trek. Justin van Rensburg, kaptein, en Ruhein Prins, Mervin Prins, Donovan Pietersen en Marvin Kortjé het elk een paaltjie ingeoes.
Riversdal wat 283 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte moes aanteken, kon net 150 lopies op die telbord kry. Die hitte het hulle egter ’n knou toegedien toe Anvor Roos, hul openingsbouler, nie verder aan die wedstryd kon deelneem en gaan kolf nie, nadat hy aan hewige hoofpyn en uitputting van die veld af is. Chriswan Slingers met 42 het die beste met die kolf gevaar, terwyl Jason van Rensburg (nie uit) en Kortjé elk 20 lopies wat onderskeidelik elk een ses ingesluit het, moedig probeer het om die teiken te behaal. Net Ruhein Prins met 14 en Lendle Evertse met 12 kon dubbelsyfers behaal.
Vir United het Len Burger met 4/54 met een leeg na 9 beurte die beste met die bal gevaar. Noudt met 2/17 na 6, Joubert met 2/18 na 3.2 en Du Preez met 1/31 na 6 beurte het die ander paaltjies ingeryg. Noudt is ook as die Man van die Wedstryd aangewys.
United speel Saterdag, 24 Januarie tuis teen Kwanonqaba. Die ander twee wedstryde is onderskeidelik Slangrivier tuis teen Albertinia en Riversdal tuis teen Melkhoutfontein.
