HEIDELBERG KRIEKETNUUS - United-krieketklub het Saterdag 24 November hul laaste SWDK Promosieliga wegwedstryd van die jaar redelik maklik gewen toe hulle Albertinia met vier paaltjies geklop het.
United het die loot gewen en besluit om die tuisspan in te stuur om te kolf. Die tuisspan is binne 23.3 beurte vir 'n skamele 84 lopies uitgeboul met die jongeling, Jaylin Opperman, wat sy eerste 'fiver', 5/11 na 2.3 beurte ingepalm het. Net twee kolwers, Wilhelm Solomons met 30 (2x4) en Bertram Kiewiet met 15 (2x4) kon 'n noemenswaardige bydrae lewer.
Die ander paaltjies is onderskeidelik deur Danielo Du Preez met 1/12 met 1 leeg na 6 beurte, Jaques Thyse met 1/25 na 7 beurte, Enzo Lodewyk met 1/6 met 1 leeg na 3 beurte, Berthal September met ¼ na 1 beurt en Andrew Pieters met 1/18 met 1 leeg na 3 beurte, platgetrek.
United, die ligavoorlopers, moes 85 lopies in hul toegelate 50 beurte aanteken en het die teiken na 15.4 beurte behaal met hul totaal op 87 vir die verlies van ses paaltjies. Die tuisspan het egter hul besoekers ietwat laat skrik toe hulle vier paaltjies vir net 15 lopies ingeryg het. Du Preez het egter sy span uit die penarie kom red en die wedstryd met 'n sierlike ses in hul guns beklink.
Buiten Du Preez met 15 vanaf vyf balle wat 'n ses en vier ingesluit het, het Pieters met 34 van 37 balle (4x4 & 2x6), asook Garth Pieterse met 14 (1x4) die beste met die kolf vir United gevaar.
Vir Albertinia het Chandré Esau met 3/30 na 3.4 beurte die beste met die bal gevaar. Die ervare Wayne Coackley met sy 2/5 met 4 leeg na 6 beurte en Renaldo Waterboer, kaptein, met 1/16 na 2 beurte het die ander paaltjies ingeryg.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'