HEIDELBERG KRIEKET NUUS - Die plaaslike krieketklub het Saterdag 11 Januarie in hul tuiswedstryd teen Mayflower-krieketklub van Groot-Brakrivier hul SWDK Promosieliga eerste afdelingwedstryd met vyf paaltjies gewen.
Die besoekers het die loot gewen en besluit om te kolf.
Hulle is tot 163 almal uit in 41,2 beurte beperk. Vir Mayflower het Clinton Pietersen (kaptein) met 39 (5x4) van 49 balle die beste met die kolf gevaar.
Kolwers Roopesh Raveendran met 23 (3x4) van 61 balle, Rayner Treurnicht met 18 (3x4) van 24 balle en Rayno Prins met 17 (2x6) van 18 balle het moedig probeer om 'n skaflike teiken te stel.
Vir United was Jacquen Meyer met 3/7 met 1 leeg na 4 beurte en Andrew Pieters met 3/34 met 2 leeg na 10 beurte die suksesvolste boulers.
Hulle is goed deur Berthal September met 2/34 met 1 leeg na 7,2 beurte, Nathaniel Lodewyk met 1/10 met 1 leeg na 4 beurte en Danielo Du Preez met 1/16 met 2 leeg na 8 beurte met die bal bygestaan.
United moes 164 in hul toegelate 50 beurte aanteken maar het die teiken na 24,1 beurte behaal met hul totaal op 169 met net vyf paaltjies plat.
Die groot uitblinker met die wilgerlat was ongetwyfeld Shirgené Swartbooi, die aanvangskolwer, met 'n onoorwonne 94 (6x4; 8x6) van net 66 balle ingesluit het. September met 24 (3x4) vanaf 33 balle en Lodewyk met 10 (1x6) vanaf 26 balle, het ook dubbelsyfers behaal.
Vir Mayflower het Graham Samuels met 1/3 na 1 beurt, Ryno Prins met 1/14 na 4 beurte, Ashwin Meyer met 1/20 na 4 beurte, Earl Jacobs met 1/24 na 3 beurte en Pietersen met 1/37 na 3 beurte die paaltjies laat kantel.
United speel Saterdag 18 Januarie hul laaste ligawedstryd weg teen die huidige voorlopers Sussex van Mosselbaai. United sal dié wedstryd met 'n bonuspunt moet wen om 'n kans te staan om hul buurspan Riversdal met 'n beter lopietempo te klop om volgende week vir 'n halfeindronde te kwalifiseer.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'