HEIDELBERG NUUS - Heidelberg United-krieketklub het Saterdag vir die tweede agtereenvolgende seisoen hul plek in die halfeindstryd van die SWDK Garden Route Badgers se Promosieliga bespreek toe hulle die span van Thembalethu in die laaste ligawedstryd met 32 lopies geklop het.
Die tuiswedstryd by die Kairos Ovaal is in erge hitte gespeel met die kwik wat by 39° gedraai het.
Die besoekers se kaptein, Andrew Jantjies het die loot gewen en besluit om die tuisspan in te stuur om te kolf. Aanvanklik het dit na ’n goeie besluit gelyk toe Gershom van Rooyen, aanvangskolwer, en Garth Pieterse met hul tellings onderskeidelik op vyf en twee - en met die groottotaal op 49 na 7.2 beurte - terug in die kleedkamer was.
Daar is egter nie rekening gehou met Marquit September, aanvangskolwer, wat goed op dreef was om United in staat te stel om die skaflike totaal van 231/10 vanaf 44.5 beurte op te stel nie.
September het 63 lopies vanaf 61 balle, wat 4 viere en 3 sesse ingesluit het, aangeteken. Hy is goed deur sy broer Berthal September, met 33 lopies vanaf 33 balle met 5 viere en 1 ses, Duan Roberts, met 33 vanaf 56 met 4 viere, en Jaques Thyse, met 23 vanaf 36 balle wat 3 viere en 1 ses ingesluit, bygestaan. Shirgené Swartbooi met sy 11 lopies vanaf 10 balle met 2 viere, kon ook dubbelsyfers behaal.
Vir Thembalethu het Igcobo Khitshini met 4/51 die beste met die bal gevaar. Kuhle Ncamile met 2/45, met 1 leeg vanaf 10 beurte, Unathi Mbathane, met 2/44 vanaf 5.5 beurte, Mihlali Gcanga, met 1/25 vanaf 9 beurte, en Mbuyiselo Sonti, met 1/42 na 8 beurte, het die ander paaltjies laat kantel.
Die besoekers moes die totaal van 232 lopies binne hul toegelate 50 beurte aanteken, maar is vir 199 lopies uitgehaal na 39.2 beurte om aan die tuisspan ’n plek in die semifinaal te verseker.
Vir Thembalethu het Thabo Dywili met 71 lopies vanaf 71 balle met 11 viere en 1 ses, die beste met die wilgerlat gevaar. Hy is goed deur Lastword Tyapfumaneyi met 34 lopies vanaf 53 balle met 5 viere, Sonti met 29 lopies vanaf 42 balle met 6 viere, en Kamvalethu Feni met 13 lopies vanaf 17 balle wat 3 viere ingesluit het, bygestaan.
Vir United het Berthal met 3/54 na 10 beurte en Garth Pieterse met 3/23 na 6 beurte, die beste met die bal gevaar. Wesley Bunding met 2/15 na 4 beurte en Gershom Van Rooyen met 1/34 na 7.2 beurte het die ander paaltjies platgetrek.
Met dié oorwinning speel United Saterdag 1 Februarie weg teen New Dawn Park van Pacaltsdorp in hul halfeindstryd in hul poging om vir die tweede agtereenvolgende seisoen in die finale mee te ding.
Die ander halfeindstryd is tussen Mosselbaai en Ramblers van George op die Van Riebeeck-stadion.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’