HEIDELBERG KRIEKET-NUUS - United-krieketklub het Saterdag 10 November op hul tuisveld vir Melkhoutfontein in hul tweede agtereenvolgende SWDK Hessequa-stroom promosieligawedstryd met 32 lopies gewen.
Die besoekers het die loot gewen en besluit om United in te stuur om te kolf, wat na twee vennootskappe tussen Berthal September en die veteraan Andrew Pieters, asook Pieterse en Pernell Conradie na 19.3 boulbeurte 100 lopies aanteken.
Die tuisspan beleef egter 'n groot insinking en het hulle klokslag paaltjies verloor. Hul oorblywende agt paaltjies word vir 'n skamele 51 lopies in 13.4 boulbeurte uitgehaal. Hulle is met hul telling op 151 almal uit na 33.1 beurte. Melkies het 24 ekstra lopies met swak boul- en veldwerk bygedra.
Net Elrick Pretorius (kaptein) met 12 lopies, Corbin Swartbooi met 12 en Danielo du Preez met 10 kon dubbelsyfers behaal.
Melkhoutfontein se beste bouler was die jong Henrico Saayman met 5/24 na 7 beurte. PJ Pietersen (kaptein) met 2/24 met 1 leeg na 7.1 beurte, asook Reagan Deutschen met 2/38 na 7 beurte het die ander paaltjies laat kantel. Monré Saayman het met 'n goeie ingooi een paaltjie laat kantel.
Die besoekers moes 152 in hul toegelate 50 beurte aanteken, maar was sommer met die tweede bal van die tweede beurt in die knyp toe die openingskolwer, Saul Pieterse met geen lopies uitgehaal is.
Melkies het hul tweede paaltjie na 4.3 beurte met die totaal op 19 verloor, toe Monré Saayman met sy totaal op 7 bvp betrap is.
Bestendige vennootskappe van 31 deur Nicolas Pietersen met 32 en Deutschen met 13, asook 47 tussen Pietersen en Gashwin Scholtz met 25 om die derde en vierde paaltjies het United se ietwat trae boul- en veldwerk die hoof gebied. Hulle kon egter nie munt daaruit slaan nie en was na 37.5 beurte almal uit vir 119 lopies. Die tuisspan het self 26 ekstra lopies aan hul gaste toegestaan.
Vir United het Pretorius met 4/32 met 1 leeg na 10 beurte die beste met die bal gevaar. Hy is goed deur Swartbooi met 2/13 na 5.5 beurte, Du Preez met 2/27 na 7 beurte en Pieters met 1/27 met 1 leeg na 10 beurte bygestaan. Pieters is as speler van die wedstryd aangewys.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'