STILBAAI NUUS - Die heerlike reën wat Stilbaai die afgelope paar dae so mildelik ontvang het, het net lank genoeg gewyk sodat die krieketspelers Sondag 8 Februarie 'n vriendskaplike T20-wedstryd kon speel.
Alonza het die uitdaging teen 'n gemengde span aangepak en van genade was daar min sprake.
Die gemengde span het eerste gekolf en is almal uitgehaal vir 'n skaflike 137 lopies. Alonza het dus 'n teiken van 138 lopies gehad om in hul toegelate 20 boulbeurte vir die oorwinning te jaag.
Met twee boulbeurte oor was die wedstryd steeds in die weegskaal en die beroepswedders het klaarblyklik nie kanse gevat nie. Alonza het egter koelkop gebly en met nege balle oor die tweestryd met 138 lopies vir 5 paaltjies beklink.
Daar is glo nog spanne wat belangstel om deel te neem, en hierdie inisiatief kan moontlik ontwikkel in 'n gesonde en genotvolle kompetisie terwyl die Besigheidsliga nie aan die gang is nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’