HESSEQUA KRIEKET NUUS - Die plaaslike United-krieketklub het Saterdag 9 November hul rieme lelik styf geloop.
Hulle het hul SWDK-promosieligawedstryd teen Riversdal met 139 lopies verloor. Die twee spanne het om die gesogte Leonard Hurling-wisseltrofee meegeding.
Riversdal het die loot gewen en besluit om te kolf. United, wie se boul- en veldwerk gewoonlik hul sterk punt is, het dié keer vir Riversdal toegelaat om 'n totaal van 357 almal uit in 47,3 beurte op te stapel. Benewens 'n lustelose vertoning het United ook planloos voorgekom.
Vir Riversdal het Bart Nel met 106 lopies (11x4, 7x6) vanaf net 49 balle 'n ankerrol gespeel. Hy het egter twee vangkanse verbrou. Hy is goed deur Lendl Evertse met 66 (7x4, 3x6) vanaf 41 balle, Justin van Rensburg met 52 (5x4, 3x6) vanaf 37 balle, Mervyn Prins met 39 (6x4) vanaf 47 balle, Jason van Rensburg 34 (2x4, 3x6) vanaf 34 balle, en Byron Esau 22 (5x4) vanaf 31 balle bygestaan.
Vir United was Danielo du Preez met 3/79 na 8 beurte die suksesvolste bouler. Jacquen Meyer met 2/38 na 6 beurte, Corbin Swartbooi met 2/76 na 9,3 beurte, Jaylin Opperman met l/24 na 5 beurte en Jacobus Michaels met 1/63 na 9 beurte met 1 leeg het die ander paaltjies ingeryg.
Die tuisspan moes 358 in hul toegelate 50 beurte aanteken, maar is na swak kolfwerk in 37,1 beurte vir 218 lopies almal uitgeboul. Jaques Thyse met 55 lopies (3/4, 4/6) vanaf 30 balle, Berthal September met 44 (6/4) vanaf 50 balle, Garth Pieterse met 24 (2/4, 1/6) vanaf 35 balle en Wesley Bunding met 22 (5/4) vanaf 12 balle het vir United die beste met die kolf gevaar. Henrico Esau met 13 (1/4) en Swartbooi met 12 (2/4) het ook dubbel syfers behaal.
Riversdal se uitblinker met die bal was ongetwyfeld Granwin Scholtz (kaptein) met 3/56 na 10 beurte. Hy is goed deur Esau met 2/42 na 8,1 beurte en Marchello Wessels met 2/59 met 1 leeg na 10 beurte bygestaan. Nel met 1/17 na 2 beurte en Justin van Rensburg met 1/122 na 2 beurte het die ander paaltjies laat kantel.
Nog 'n nederlaag kan vir United moontlik die einde van hul kanse om in die halfeindstryd mee te ding, beteken. Hulle sal op Saterdag 16 November teen Sussex van Mosselbaai speel, terwyl Riversdal teen Pirates United van Knysna te staan sal kom.
Bart Nel stuur ’n bal grens toe net na hy sy honderdtal aangeteken het. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Bart Nel. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Granwin Scholtz wens Bart Nel met sy warrelwind kolfbeurt geluk. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Lees 'n vorige artikel: Dal laat heidelberg se paaltjies kantel
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'