RIVERSDAL NUUS - Riversdal het Heidelberg Saterdag in 'n spannende krieketwedstryd in die Riverville-stadion in die Six Gun Grill SWD Promosieliga met 26 lopies geklop.
Heidelberg het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Die toporde van Riversdal het egter bestendig begin en was goed op dreef, maar sy middelorde kon nie op die goeie begin voortbou nie. Die tuisspan is vir 187 lopies uitgehaal.
Vir Heidelberg het Jaylin Opperman (3/57 ná 9 beurte) en Berthal September (2/31 ná 8.1 beurte) puik geboul.
Riversdal se beste kolwers was Bugan Esau (47 lopies van 113 balle), Firlynn Malowitz (28 lopies van 65 balle) en Lendle Evertse (18).
Jason van Rensburg (15), Jo-Wayne Jacobs (10) en Marchello Wessels (10) kon ook dubbelsyfers aanteken.
Ná 'n vervroegde middagete breek het die besoekers die klein totaal met groot versigtigheid aangepak, maar Riversdal se boulers het deurlopend goeie druk toegepas en Heidelberg tot 93/2 ná 25 beurte beperk.
Ná 'n waterbreuk het die tuisspan se boulers met uitstekende lengtes die besoekers een na die ander terug kleedkamer toe gestuur om die wedstryd in hul rigting te swaai.
Maar, met die wenteiken 30 lopies en nog vyf paaltjies staande, het dit gelyk of Heidelberg 'n oorwinning uit die kake van 'n nederlaag sou pluk. Jason van Rensburg, Riversdal se kaptein, het egter homself as bouler opgebring het en saam met die nuweling Jo-Wayne Jacobs die besoekers lelik laat bontstaan.
Die laaste vyf paaltjies vir slegs vier lopies laat kantel. Heidelberg se uitblinkers met die kolf was Garth Pieterse (30 lopies van 72 balle), Danielo du Preez (26 lopies van 34 balle) en Berthal September (24 lopies van 35 balle).
Donavin Pietersen (4/19 in 10 beurte), Jason van Rensburg (3/16 in 5 beurte) en Jo-Wayne Jacobs (2/6 in 2 beurte) het vir Riversdal met die bal geskitter.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'