SUID-KAAP NUUS - Riversdal Krieketklub het Saterdag 16 Februarie hul kwarteind wegwedstryd teen Sussex van Mosselbaai net-net met 14 lopies gewen.
Met die sege dring hulle deur na die halfeindronde van die SWDK-promosieliga waar hulle teen Heidelberg United sal meeding op ’n plek in die eindronde wat op Oudtshoorn gespeel sal word.
Riversdal het die loot gewen en besluit om te kolf. Hulle het 136 almal uit in 43.5 beurte aangeteken, met Gavin Kortjé wat die beste met 37 lopies (4x4) gevaar. Hy is goed deur Byron Esau met 27 lopies (4x4) en Jason van Rensburg met 23 (4x4) bygestaan.
Vir Sussex het Nathan Plaatjies met 4/42 met 1 leeg na 10 beurte die beste met die bal gevaar. Rowan Groenewald met 2/36 met 1 leeg na 10 beurte, Godwin Plaatjies met 1/5 met 4 leeg na 7 beurte en Emile Esau met 1/13 met 2 leeg na 5 beurte het ook hatrd probeer om die besoekers te weerhou van ‘n stewige totaal.
Die tuisspan moes 137 in hul toegelate 50 beurte aanteken, maar, was na 36.5 beurte terug in die kleedkamer met hul telling op 122 almal uit. Lindle Trimm met 49 lopies (2x4 en 4x6) het hard probeer om sy span deur te trek, maar dit was nie goed genoeg nie. Net Athan Murray met 19 (1x6) en Emile Esau met 12 (2x4) kon ook dubbelsyfers op die telbord plaas.
Vir Riversdal het Granwin Scholtz met 6/24 na 10 beurte die tuisspan se wind uit hul seile geslaan en die beste met die bal gevaar. Van Rensburg met 2/22 met 1 leeg na 8 beurte en Marvin Kortjé met 1//30 met 2 leeg na 10 beurte het Scholtz goed bygestaan met die bal.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'