KRIEKET NUUS - Melkhoutfontein-krieketklub het Saterdag, 19 Februarie op hul tuisveld vir Albertinia met gemak met twee paaltjies gewen in hul SWDK Six Gun Grill B-ligawedstryd.
Melkies het die loot gewen en hul besoekers ingestuur om te kolf. Albertinia kon net 107 lopies, almal uit na 44.1 beurte opstapel.
Net Frederick Uys met 29 lopies vanaf 109 balle (4x4) kon dubbelsyfers behaal. Swak boul- en veldwerk deur die tuisspan het ook vir 51 ekstra lopies aan Albertinia besorg.
Vir Melkies het Jason Lawrence met 4/13 met 5 leeg na 10 beurte die beste met die bal gevaar. Hy is goed deur Peter-John Petersen met 3/14 met 4 leeg na 10 beurte en Jonathan Michiel met 3/4 met 2 leeg na 5.1 beurte bygestaan.
Die tuisspan is die maklike teiken van 108 lopies vanaf hul toegelate 50 boulbeurte gestel en dit het hulle vanaf 27.3 beurte met hul totaal op 108/8 behaal.
Lawrence met sy 24 lopies vanaf 29 balle (3x4) het die beste met die kolf gevaar. Reagan Deutchen met 21 lopies van 34 balle (2x4), Firlynn Malowitz met 14 lopies vanaf 37 balle (1x4) en Michiel met 10 lopies vanaf 8 balle (2x4) kon ook dubbelsyfers aanteken.
Vir Albertinia het Leegano Riddles met 5/31 na 8.3 beurte met die bal uitgeblink.
Junaid James met 2/24 na 6 beurte, Bertram Kiewiet met 1/13 met 1 leeg na 3 beurte en Renaldo Waterboer met 1/27 na 6 beurte het ook hul deel bygedra met die bal.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'