HEIDELBERG NUUS - United Krieketklub het Saterdag 16 Februarie na die halfeindronde van die SWDK-promosieliga deurgedring toe hulle Mayflower van Groot-Brakrivier met vier paaltjies klop.
Hulle speel Saterdag 2 Maart tuis teen Riversdal, wat daarin geslaag het om hul weg kwarteindstryd teen Sussex van Mosselbaai met 14 lopies te wen.
Die besoekers het die loot gewen en besluit om te kolf, maar was gou in die knyp toe Riaan Prins met sy telling op 7 en die groot totaal op net 18 lopies na 4.4 beurte sy paaltjie verloor. Mayflower het daarna vasgeskop en twee skaflike vennootskape van 29 en 47 om die tweede en derde paaltjies het hulle op 94/3 na 18.3 beurte te staan gebring.
Hulle verloor egter ses paaltjies vir net 40 lopies na 27.1 boulbeurte. ’n Koppige laaste paaltjievennootskap van 28 tussen Eustace Frans met 8 en Graham Samuels met 14 het die telling tot 162, almal uit na 34.2 beurte, geneem.
Vir Mayflower het Minnies met 45 lopies (4x4, 1x6) die beste met die kolf gevaar. Clinton Pietersen met 28 (2x4 en 1x6) en Rayner Treurnicht (2x4) het ook hul deel bygedra.
Vir United het Andrew Pieters met 3/27 na 7 beurte en Wesley Bunding met 3/16 na 4 beurte met die bal uitgeblink. Elrick Pretorius met 1/23 na 6 beurte, Jaques Thyse met 1/19 na 3 beurte en Corbin Swartbooi met 1/5 na 1.2 beurte het ook goed met die bal bygedra.
United moes 163 in hul toegelate 50 beurte aanteken en was goed op dreef om die teiken redelik gemaklik aan te pak, toe Pieters met sy telling op 29 (3x4 en 2x6) met die groot totaal op 39 na 4.5 beurte sy paaltjie verloor. ’n Stewige vennootskap van 36 lopies om die tweede paaltjie tussen Berthal September met 22 (2x4) en Garth Pieterse met 12 (1x4) het die telling tot 75/2 na 13.1 beurte geneem.
Die tuisspan het egter hul ondersteuners benoud laat raak toe hulle vier paaltjies vir net 6 lopies binne 3.3 beurte verloor om die telling op 81/6 na 16.4 beurte te staan te bring. Dit was egter die Swartbooi-broers, Corbin en Shirgené met ’n onoorwonne vennootskap van 83 lopies van 76 balle om die sesde paaltjie wat die knoop vir die tuisspan deurgehaak het. Corbin het 61 (9x4 en 1x6) en Shirgené het 15 (1x4) gemoker om die totaal van 164/6 na 29.2 beurte aan te teken.
Vir Mayflower het Theodore Cedras met 3/30 na 6 beurte die beste met die bal gevaar, terwyl Minnies met 2/49 na 9 beurte en Ashwin Meyer met 1/30 na 6 beurte die ander paaltjies platgetrek het.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'