TUINROETE KRIEKET NUUS - Mayflower-krieketklub het Saterdag 2 November behoorlik teen Heidelberg United geblom en hul tuiswedstryd in die SWDK Promosie A-afdeling met 135 lopies gewen.
Dit is United se tweede agtereenvolgende nederlaag vir die seisoen.
Die tuisspan het die loot gewen en besluit om te kolf. Dit het voorgekom of dié besluit hulle duur te staan sou kom omdat hulle na 4,5 beurte rug teen die muur was met drie paaltjies plat. Slordige boul- en veldwerk deur United het egter tot gevolg gehad dat Mayflower 216 lopies in 38,5 beurte kon aanteken.
Vir die tuisspan het Rayno Prins met 51 vanaf 82 balle (3x4 en 2x6) die beste met die kolf gevaar.
Hy is goed deur Kevin Jansen met 27 (3x4) en Clinton Pietersen, kaptein met 26 (2x4), Graham Samuels met 15 (1x4), Anwar Petersen met 14 (3x4) en Earl Jacobs ook met 14 (2x4) bygestaan.
Vir United was Karel Michaels met 3/14 na 5 beurte die suksesvolste bouler. Andrew Pieters met 2/24 na 5,5, Jacquen Meyer met 2/27 na 5, Jaques Thyse met 2/60 na 8 en Danielo du Preez met 1/13 na 6 met 1 leeg, het die ander paaltjies laat kantel.
Die besoekers moes 217 in hul toegelate 50 beurte aanteken, maar is in 22,3 beurte vir 81 lopies uitgeboender. Slegs Du Preez met 19 (4x4), Garth Pieterse met 18 (2x4) en Berthal September met 14 (2x4) kon enige weerstand bied.
Die groot uitblinker met die bal vir Mayflower was Pietersen met 3/20 na 6 beurte. Hy is goed deur Roopesh Raveendran met 2/17 na 3,3 beurte, Jacobs ook met 2/17 na 3 beurte, Prins met 1/16 na 6 beurte en Hugh Minnies met 1/2 na 2 beurte bygestaan.
United kom Saterdag in hul eerste tuiswedstryd teen Riversdal te staan.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'