STILBAAI NUUS - Krieketspanne van ses laerskole het van sover as Kaapstad na Stilbaai gereis om die naweek van 21 Oktober aan Laerskool Bertie Barnard se eerste krieketfees in Stilbaai deel te neem.
Laerskole De Hoop van Somerset-Wes en Hendrik Louw van Kaapstad het die verste gereis, met Worcester Primêr en Laerskool Bredasdorp wat ook deelgeneem het.
Laerskool Volschenk van Riversdal het die lys van besoekers afgerond.
Die skole het Vrydag reeds begin speel en wedstryde is Saterdag voortgesit. Aangesien so 'n groot hoeveelheid spanne gelyktydig gespeel het, is die krieketvelde van Bertie Barnard, asook Stilbaai se dorpsveld en Melkhoutfontein se krieketveld gebruik terwyl die kinders in die chalets van Jongensfontein se woonwapark geakkommodeer is.
Volgens Bertie Barnard se skoolhoof, Nicky Deetlefs, word met die krieketfees gepoog om 'n blywende, positiewe bydrae tot die ontwikkeling van die jong krieketspelers te maak.
Ses krieketspanne saam met hul afrigters het aan die krieketfees deelgeneem.
Die doel van die fees was ook nie om 'n wenspan aan te wys nie, maar sportmangees is bevorder. Hy hoop dat dit 'n jaarlikse instelling en groter sal word.
"Baie dankie aan al ons borge, maar veral ons hoofborg, Ricoh Garden Route," het hy gesê.
ARTIKEL & FOTO: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'