Gallery
HEIDELBERG NUUS EN GALERY - Die vierde aanbieding van die Thomas Pretorius Paasnaweek krieketfees het nie net opwindende krieket opgelewer nie, maar ook gesorg dat die St Barnabas Anglikaanse kerk, wat verlede jaar groot skade tydens 'n stormwind en reën opgedoen het, finansiël baat daaruit vind.
Dié ses aan ’n kant-toernooi wat deur die Wynland Vriendekring, onder leiding van Vennito van Niekerk van stapel gestuur is, het op 16 en 17 April op die Young Stars Ovaal plaasgevind.
Daar is in drie afdelings meegeding, naamlik die Bowl-, Plaat- en Cup-afdelings. In die Bowl-eindstryd het die Wynland Kort Sokkiesspan die louere opgeraap met ’n sege oor Kielie United 2.
FOTOGALERY: Krieketfees bring groot opwinding
In die Plaat-eindronde het Wynland Mongolians die gunstelinge, Turtles maklik kafgedraf om met die louere weg te stap.
Die verwagte reusestryd van die Cup-eindronde tussen Wynland Veterane en Kielie United 1 het egter nie soos verlede jaar hul ondersteuners naels laat kou nie.
Die veterane, wat so graag die driekuns wou voltooi na seges deur hul twee junior spanne, moes met hul sterte tussen die bene huiswaarts keer nadat die verdedigende kampioene hulle vir ’n skamele 37 lopies, almal uitgeboender het in hul toegelate ses beurte.
Kielie 1 het die teiken van 38 lopies sonder die verlies van ’n paaltjie na twee beurte behaal.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'