HESSEQUA KRIEKETNUUS - Die grand finale van die Heidelberg en Riversdal Paasnaweek ses-'n-kant kriekettoernooie het Sondag, 11 April vir opwindende krieket op Riverville-stadion gesorg.
Dié wedstryde wat tussen die wenners van die onderskeie dorpe se cup-wenners en naaswenners gereël was, het weereens bewys dat daar vele talentvolle spelers is.
Daar was ook 'n wedstryd tussen die twee Dream Teams van die toernooie wat nie in die cup-eindronde meegeding het nie.
Die twee Riversdal-spanne wat in die voorwedstryde voor die groot finaal gespeel het, het koning gekraai. In die eerste wedstryd het die droomspan van Riversdal 'n ietwat onder gehalte 78 lopies in hul 10 beurte opgestapel. Dit moes vir Heidelberg 'n redelike haalbare teiken gewees het, maar hulle is vir 68 lopies uitgehaal, wat Riversdal met 10 lopies laat seëvier het.
In die tweede wedstryd het Riversdal se Stage Boys wat die naaswenners was, die span van Kielie United 2 heeltemal oorskadu en 108 lopies in hul 10 beurte aangeteken. Kielie op hulle beurt kon net 63 lopies opstapel en verloor dan ook hul wedstryd met 45 lopies.
Met die twee wedstryde reeds op hul kerfstok het die Unknown Heavies-span van Riversdal sekerlik gedink dat hulle die drietal seges sou volmaak, dit nadat hulle 'n warrelwind 27 lopies in die eerste beurt aangeteken het.
Dit was egter nie hulle beskore nie en het Kielie United hulle tot 64 lopies beperk in hul 10 beurte.
Kielie United 1 het egter die teiken redelik gemaklik gehaal en die wedstryd met 'n sierlike vier beklink om 68 lopies aan te teken en sodoende met drie paaltjies die kroon as Hessequa-kampioene opgeraap.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'