HEIDELBERG NUUS - Heidelberg United Krieketklub het Saterdag 13 Januarie in hul tuiswedstryd behoorlik oor Hartenbos gestoomroller en hul SWDK Garden Route Badgers Promosie A-ligawedstryd oortuigend met 10 paaltjies gewen.
Die besoekers se kaptein, Micele Febbraio het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Aanvanklik het dit nie na ’n goeie besluit gelyk toe die besoekers se aanvangskolwers, Johan Strydom en Liam van der Merwe vir ’n vennootskap van 43 lopies gesorg het voordat Strydom sy paaltjie met sy totaal op 19 vanaf 21 balle met 4 viere, verloor het.
Daarna het die paaltjies gereeld gekantel en was hulle terug in die kleedkamer met hul groottotaal op 143 almal uit. Daar moet wel genoem word dat hulle net met nege spelers opgedaag het.
Vir United het Enzo Lodewyk met 2/36 na 7 beurte wat 1 leë ingesluit het, die beste met die bal gevaar. Hy is goed deur Wesley Bunding met 1/9 na 2 beurte, Jomeille Matthys met sy 1/7 na 2 beurte, Jaylin Opperman, kaptein, met 1/17 na 2 beurte en Jaques Thyse met 1/40 na 5 beurte, bygestaan.
United wat die totaal van 144 in hul toegelate 50 beurte moes aanteken, het die teiken sonder die verlies van ’n paaltjie vanaf 15.4 beurte behaal. Dit is United se eerste 10 paaltjie oorwinning sedert hul bestaan.
Die tuisspan se aanvangskolwers, Garth Pieterse met 57 vanaf 57 balle wat 4 viere en 2 sesse ingesluit het, en Gershom van Rooyen met 48 lopies vanaf 34 balle met 5 viere en 1 ses, het 146 lopies met behulp van 41 ekstra lopies, opgestapel.
United speel Saterdag 20 Januarie weer weg teen Hartenbos en sal seker weer die tuisspan wil wys dat hul eersterondte sege geen gelukskoot was nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’