HESSEQUA NUUS - Die Turtles-span, onder leiding van hul veelsydige kaptein en sportman, Corbin Swartbooi het Sondag, 19 Desember die kroon as kampioene van die Rekon-jeugkriekettoernooi opgeraap toe hulle Kielie United verslaan het om die beker-afdeling te wen.
Dit is die tweede jaar waar die spanne vir die louere van dié gesogte toernooi meeding.
In die plaat-afdeling het die groentjies van die toernooi, Royal Challengers Barlowlaan (RCB) verlede se kampioene, Young Guns uitgestof om die beker op te raap.
Die toernooi het reeds op Sondag, 7 November afgeskop en was sedertdien baie kompeterend, dog in goeie gees gespeel.
In die plaat-eindronde het Young Guns die loot gewen en besluit om RCB in te stuur om te kolf. Laasgenoemde het 150 lopies opgestapel in hul 10 toegelate beurte. Op hul beurt kon Young Guns net 112 lopies aanteken en wen RCB met 38 lopies.
In die beker-eindronde tussen die Turtles en Kielie United het laasgenoemde die loot gewen en stuur die Turtles in om te kolf. Die Turtles was gou in die knyp met Heinrico Esau wat 'n driekuns ingepalm het, waartydens hy dan van die Swartbooi-broers, Shirgené en Corbin ontslae geraak het.
Die Turtles kon egter met behulp van Marcelino Meyer die skaflike totaal van 102 opstapel in hul 10 beurte.
Kielie United, wat die teiken van 103 lopies gestel is om te wen, kon nie die mas opkom nie en is hulle almal uit vir 82 lopies, wat die Turtles die wedstryd met 20 lopies laat wen. Corbin Swartbooi en Percell Marais het gesamentlik vyf paaltjies ingeryg.
Percell Marais is as speler van die toernooi aangewys.
Die organiseerders, onder leiding van Fernell Pretorius, opvoeder en jeugaktivis, het alle deelnemende spanne bedank vir hulle deelname vir die suksesvolle aanbieding van die toernooi.
Die Turtles wat as die 2021 Rekonsiliasiebeker-afdeling kampioene gekroon is na hul sege teen Kielie United. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'