HEIDELBERG KRIEKET NUUS - Heidelberg United-krieketklub het Saterdag 5 Oktober in hul eerste ligawedstryd van die SWDK Promo-sieliga, (Afdeling 1-Stroom A) vasgeval.
United verloor die wedstryd teen Pirates United-krieketklub op Hornlee-sportterrein, Knysna met nege paaltjies.
Die wedstryd was tot 35 beurte beperk as gevolg van die baanblad wat nat was na reën die vorige dag.
Die besoekers het die loot gewen en besluit om te kolf. Na drie beurte het hulle 15 lopies op die telbord gehad, maar binne vyf balle het hulle drie paaltjies verloor sonder om 'n lopie by te voeg.
Garth Pieterse, die ervare Andrew Pieters, kaptein Danielo du Preez, asook vier ander kolwers het hul paaltjies vir 'n nulletjie verloor. Net Berthal September met 21 lopies (3x4) en Corbin Swartbooi met 12 lopies (1x4) kon dubbelsyfers behaal. Hulle is in net 14,5 beurte vir 'n skamele 52 lopies uitgeboender.
Vir Pirates het Theo Oelf die beste met die bal gevaar en met 5/11 na 3,5 beurte gespog. Hy is goed deur Branwill Goeda met 3/14 na 4 beurte en Justin Meyer met 2/27 met 3 leeg na 7 beurte bygestaan.
Pirates moes in hul toegelate 35 beurte 53 lopies aanteken. Hulle het die teiken met gemak na 9,4 beurte behaal toe Jody De Koker sy paaltjie, met sy telling op twee en die groottotaal op 11, na 1,3 beurte verloor het. Marshall Filander op 26 (3x4) en Curnol Thorne met 14 lopies het 'n groot bydrae gelewer. Swartbooi wat op 1/19 na 3 beurte was, het die enigste paaltjie laat val.
United speel op 13 Oktober op hul tuisveld teen Albertinia. Op 5 November durf hulle Mayflower op Groot-Brakrivier aan.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'